Holandse Ertjiesop - “Snert” op sy beste!

Posted in Soups

Rustenburg Herald is reeds die afgelope sowat drie maande besig met ‘n reeks kook- en kosmaakartikels in die Platinastreek van die Vrouelandbou-unie. Ons het onlangs besluit om ‘n bietjie uit te wyk na die “platteland” en het ‘n hele dag in Groot-Marico/Zeerust deurgebring. Met hierdie tweede besoek van Rustenburg Herald se Raak die klits kwyt-span op Groot-Marico Zeerust, sit ons aan by die tafel van die baie vriendelike Connie Plug van Zeerust - ‘n geesdriftige lid van die Zeerust Vroulandbou-unie.

En ek wonder dadelik hoeveel mense (behalwe Connie) sal aanstoot neem as ek sommer so met die intrapslag sê Connie het vir ons “snert” opgedis waarmee sy nogal nie net “weggekom” het nie, maar boonop ongelooflike komplimente ontvang het.

Kom ons verduidelik - “Snert” is die eintlik naam van regte, egte Hollandse ertjiesop en met die kouer dae wat nou ewe skielik na al die lekker reën ingetree het, kan ek amper nie aan iets beter dink om ons lesers op te trakteer nie.

Hierdie resep is een van daardie wat promiment teen die kombuiskas of yskas of in ouma se resepteboek ‘n plekkie moet kry - jy gaan dit hierdie winter (en baie winters hierna) beslis nodig kry... Connie maak haar “snert” so:

Bestanddele
1 Hollandse rookwors 
500 g droë ertjies en week oornag
250g spekvleis, gekap
1 ui, gekap
1 of 2 selderystingels, gesny
1 aartappel, gerasper
‘n knippie roosmaryn en tiemie
sout en peper na smaak
2 eetlepels gekapte pietersielie
2 tot 3 blokkies hoenderaftreksel
Indien beskikbaar, gebruik sopvleis of gerookte varkskenkel. Kook saam met die droë erte tot sag, sny vleisies van bene af en verwyder bene en senings. Voeg fyn vleis by die sop.

Metode
Gooi die weekwater af en prut ertjies en sopvleis tot gaar en dik. Druk fyner met ‘n aartappeldrukker. Braai intussen die spekvleis tot gaar, voeg uie by en soteer tot sag. Voeg ander groente by asook hoenderblokkies en water. Voeg by die ertjies en prut tot gaar. Geur na smaak, sny Hollandse rookwors in ringe en voeg saam met pietersielie by so tien minute voordat jy jou sop bedien. Absoluut ‘n treffer - wonderlik lekker en geurig. Onthou om hierdie heerlike sopresep vir die komende winter byderhand te hou - as die gesin lief is vir sop - sal jy dit sommer ‘n hele paar keer moet maak - ons verwag ‘n baie koue en lang winter...

search our recipes