RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Suid-Afrikaners en in besonder Rustenburgers se tonge het op Sondag, 3 November, behoorlik uitgehang en daar kan geen twyfel wees dat die spreekwoordelike kraaie chronies vas aan die slaap was nie - wat nog te sê van kraaie wat gegaap het?
Maandagoggend was "sjoe, maar dit was darem vrekwarm nê?", die eerste woorde waarmee die meeste kantoorwerkers mekaar na die naweek gegroet het en daarna sou 'n hele rits beskrywings gevolg het van hoe warm dit ook al waar was.
Ja, met so 'n bietjie navorsing deur ons bekende weerkenner - Charlie Graham van Geelhout Gardens Kwekery - moet ons staamstem, - dit was eintlik "helwarm" - maar laat ons dit nou maar liewers nie sê nie.
Maar nee, dit is nog lank nie tyd vir nuwe rekords vir 'n hittegolf nie. Dié "voorreg" behoort aan Maandag, 27 November, van verlede jaar (2023) toe die temperature in Rustenburg 'n haas ongehoorde 38,9°C bereik het. "Sekerlik die hoogste temperature sedert ek sowat 20 tot 25 jaar gelede temperature begin aanteken het," het Graham Dinsdagoggend aan Rustenburg Herald gesê. "Baie mense sal seker wil redeneer dat Sondag ten spyte van 'n ietwat "koeler" 37.5°C een van die warmste dae van maklik die afgelope 30 jaar kon wees - indien nie die ergste nie. Hoewel 38.9°C na 'n bykans onvergelykbare temperatuur klink, het dit natuurlik baie te doen met aanvoelbare temperature en dinge soos humiditeit", het Graham gesê. Hoewel Maandag en Dinsdag maar nog net twee dae na die afgelope naweek was, het ons in hierdie twee dae nog 'n enkele persoon ontmoet wat nie oor sekerlik "die warmste dag in menseheugenis" (vir Sondag) gekla het nie.
Gelukkig het die Suid-Afrikaanse Weerdiens koeler en hopelik heelwat natter klimaat vir die res van die week voorspel. Daar was aanvanklik talle aanduidings dat Rustenburg teen Woensdag vandeesweek na 'n heerlike reënbuitjie of twee kon uitsien, hoewel die verwagtinge intussen ietwat afgeplat het. "Ons hou maar dop en ons hou aan hoop - almal het gewoonlik hierdie tyd van die jaar reën nodig - in besonderhede ons plattelandse en boeregemeenskappe. Dit feit dat Rustenburg die voorafgaande twee weke met wydverspreide wateronderbrekings oor die weg moes kom, het die erge hitte van die afgelope tyd soveel meer ondraaglik gemaak - kom ons hoop dat die prentjie oor die volgende paar dae ingrypend verander," het Graham gesê.