RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Van hoeveel instansies, organisasies of sake-ondernemings in Rustenburg en omgewing weet jy (of jou ouers) wat die bykans onmoontlike vermag het om ‘n volle 100 jaar oud te word? Ja ons weet, hoewel daar oor dekades heen talle baanbrekersorganisasies en ware geskiedenismakers uit ons wêreld vorendag gekom het, is dit nie elke dag dat enige instansie sy volgende “verjaarsdag” ‘n “eeufeesviering” kan noem nie. En in die wêreld van ink en papier (soos ons onlangs in die media verneem het) het die gedrukte media dit oor die afgelope 10 tot 20 jaar nie maklik gehad nie.
Nouja, as dit alles vir jou na ‘n mondvol somme klink, is jy waarskynlik reg - maar op Saterdag, 12 Oktober, gaan die spreekwoordelike honde huil, die hane kraai en die perde net so maklik horings kry wanneer Rustenburg Herald en sy personeel op ‘n trotse geskiedenis van 100 jaar kan terugkyk.
Hoewel dit nog vroeg in die feesjaar is en al die besonderhede rondom ons Eeufeesviering nog nie in die fynste besonderhede uitgeklaar is nie, kan Rustenburgers hulle begin gereed maak vir ‘n fees der feeste en sal dié prestasie sonder enige twyfel met ‘n reuse makietie gepaard gaan.
Vir Rustenburgers wat al jare hier teen die hange van die Magaliesberg woon, sal daar baie wees om oor te gesels, sal daar ongetwyfeld onvergeetlike herinneringe opgediep word en sal nostalgiese staaltjies oor hoeveel sakke sout Rustenburg Herald sedert die twintigerjare saam met sy gemeenskap opgeëet het, aan die orde van die dag wees.
Besonderhede waaroor daar intussen reeds besluit is, is dat Rustenburg Herald se Eeufees ‘n groot adoe gaan wees waarmee ons hoop om, onder andere, meer hoop om Rustenburg en sy mense weens ‘n beproewende ekonomiese klimaat van die afgelope tyd uit sy winterslaap wakker te skud en ons dorp en sy mense weer op die kaart te plaas.
Rustenburg Herald se eeufees sal op Saterdag, 12 Oktober, tydens ‘n egte “Oktoberfest” by Brauhaus Afrika sowat 16 km oos van Rustenburg op die Krugersdorp/Magaliesburgpad plaasvind en feesgangers sal moet regmaak vir ‘n opskop wat van 10:00 tot 18:00 duur en vir die res van die jaar as van die aangenaamste gebeurtenisse in ons streek onthou sal word.
Ons Eeufees sal natuurlik gepaard gaan met heerlik eet, drink, kuier en gesels met musiek en dans - iets vir elkeen se smaak. Uiteraard sal daar benewens die Brauhaus Afrika-gasvryheid, ook dosyne stalletjies wees wat fluks sake gaan doen en Rustenburgers en besoekers sal aanmoedig om die dag se partytjie enig in sy soort te maak.
Toegang vir die dag se bedrywighede is R60 vir volwassenes, R30 vir kinders en heeltemal gratis vir kleingoed onder ses jaar.
Maar so ‘n partytjie sal nie volledig wees sonder die gemeenskap se weer eens volgehoue en lojale ondersteuning in die vorm van spesiale advertensies met boodskappe van gelukwense nie! Rustenburg Herald beoog tans ‘n volwaardige bylaag wat reg sal laat geskied aan ons rol en prestasies oor die afgelope 100 jaar. Meer besonderhede hieroor asook alle ander aktiwiteite wat beplan word, sal binnekort beskikbaar wees. Adverteerders uit ons dorp se sakesektor of privaat-individue wat saam wil fees vier, word nou reeds genooi om ruimte vir hierdie spesiale bladsye vroegtydig te bespreek. Tot volledige besonderhede binnekort bekend is, kan adverteerders/individue intussen met ons advertensiebemarkers - Heleen Verster en Annette du Toit by 014 592 8329 in verbinding tree.