RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Magalieskruin het ‘n jarelange droom gehad om met die Voortrekkerkinders ‘n besoek te bring aan die Heldeakker in Pretoria en diens daar te lewer.
Op Saterdag, 5 Oktober het Magalieskruin Voortrekkers dan ook die wonderlike geleentheid gehad om die Heldeakker in Pretoria te besoek en diens daar te doen. Daar was ook ander organisasies soos die Krugergenootskap, FAK en Rapportryers teenwoordig gewees om gereed te maak vir die kranslegging en viering van Paul Kruger se verjaarsdag.
Op Donderdag, 10 Oktober word die verjaarsdag van oud-president Paul Kruger gevier en Magalieskruin Voortrekkers het gefokus om sy graf en ander helde se grafte in die Heldeakker skoon te maak. Die heldeakker is die oudste begraafplaas in Pretoria en oud-president Paul Kruger is hier op 16 Desember 1904 herbegrawe, nadat hy op 14 Julie 1904 in Switzerland gesterf het.
Hy is op 10 Oktober 1825 gebore en het diep spore in Rustenburg se geskiedenis getrap.