Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *
14
Sun, Sep

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

STELLALANDER-BRAY: Die Vonkelvroue-byeenkoms is op 25 Julie 2025 met groot entoesiasme in die skool op Bray gehou. Hierdie unieke inisiatief, wat in 2018 deur Sanphia Du Preez begin is as ’n alternatief vir die VLV, vier vanjaar reeds sy agtste bestaansjaar met ‘n ledetal van 54.

Onder die tema “Beweeg saam, groei saam” het vroue van Bray, Botswana, Jakkalskop en Vergeleë saamgedans, gelag en sinvolle gesprekke gevoer.
 Die oggend was gevul met pret, dans en intergenerasionele konneksie, en is deur heelparty lede bygewoon. Die byeenkomste vind maandeliks plaas van Februarie tot November, en word elke keer deur ’n ander groep vroue aangebied. Elke jaar verander die groepsamestelling, wat verseker dat nuwe vriendskappe gesmee word. Gewoonlik neem vyf tot ses gasvroue die leiding, en kies hulle self die aktiwiteite en tema vir die dag. Hierdie maand se handuitdeelstukke het gefokus op “My kringsirkel van beheer”, ’n besinning oor hoeveel tyd en energie mense bestee aan sake wat binne of buite hul beheer val. ’n Spesiale oomblik van die oggend was die eerbetoon aan die “oumatjies”, die wyses en koninginge van die gemeenskap, wat hul gedagtes en lewenslesse met die groep gedeel het. Hierdie seniors, wat met liefde en respek erken is, was: Anne Graupner, Esme Strumpher, Rita Pretorius, Naomi Du Preez, Ronel Pickles en Annetjie Smit. Die raad en wysheid wat tydens die byeenkoms gedeel is, het diep spore in die harte van die teenwoordiges gelaat: Besoek nuwe intrekkers in jou omgewing, kyk waar daar nood is en bied hulp aan, moet nooit skaam wees om raad of hulp te vra nie, hanteer ander soos jy self behandel wil word, help by die hospitaal veral met kos en klere vir kinders, behandel kinders met respek, omgee en liefde, moet nooit ophou speel, dans of sing nie en onthou jy is nooit alleen nie. Die Vonkelvroue is ’n inspirasie vir gemeenskappe regoor die streek, ’n bewys van wat moontlik is wanneer vroue saamstaan, saam leer en saam groei. Soos die groep sê: “Kom as jy kan, daar’s altyd ’n plek vir jou.”