STELLALANDER-VRYBURG: Die VLV van Vryburg het op Woensdag, 25 Junie ‘n besondere spreker, Belinda te Baerts, verwelkom wat haar aangrypende reis met kwesbare kinders gedeel het.
Haar pad het op 15 Desember 2019 begin toe ‘n pasgebore baba, toegedraai in ‘n kombersie, buite haar huis gelos is.
Sy het toe toestemming van die welsynsdepartement verkry om die baba tydelik in haar sorg te neem – die eerste tree op ‘n roeping wat haar lewe sou verander. Vandag is haar huis amptelik ‘n erkende plek van veiligheid waar kinders in nood versorg word totdat pleegsorg vir hulle gereël kan word. Sy en haar man moes ‘n deeglike ondersoek en evalueringsproses deurstaan voordat die hof toestemming gegee het. Welsynswerkers doen gereelde besoeke om die kinders se welstand te monitor. Volgens Belinda sukkel baie van die kinders met skeidingsangs en ‘n diep verlange na liefde en stabiliteit. “Die administratiewe proses, soos die verkryging van geboortesertifikate, kan baie lank neem. Weens personeeltekorte by welsynsdepartemente wag kinders soms jare lank voordat hulle amptelik in pleegsorg geplaas word,” het sy verduidelik. Sy beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat kinders tydens dié wagperiode in veilige en liefdevolle omgewings geplaas word. “Kinders vorm sterk bande met hul versorgers, en dit kan traumaties wees wanneer hulle uiteindelik oorgeplaas word,” sê sy. Tydens dieselfde geleentheid het Trudie Kok ‘n praktiese demonstrasie gelewer oor hoe om ‘n lugbraaier vir verskillende geregte aan te wend. Een van die gunstelingresepte was ‘n vinnige en maklike kaaskoek: Klits vier eiers saam met 250 ml roomkaas en een blikkie kondensmelk. Gooi in ‘n geskikte houer wat in die lugbraaier pas, en bak vir 20 minute teen 180 °C.