STELLALANDER-VRYBURG: Ondanks swaar reën en uitdagende padtoestande, het die Vryburg Makiti Sportdag op Vrydag, 21 Februarie, afgeskop met skole wat kragte gemeet het in tennis- en sokkerwedstryde.
Teen 13:00 het die reën egter die tennisaksie gekortwiek, met ‘n paar wedstryde wat nie voltooi kon word nie. Vrydagaand se beplande Steve Hofmeyer-vertoning op die rugbyveld moes weens die nat toestande na die Hoërskool Vryburg se skoolsaal verskuif, waar aanhangers steeds ‘n vermaaklike aand beleef het. Saterdag, 22 Februarie, het organiseerders reeds voor sonop alles reggekry vir ‘n vol sportdag.
Onder helder sonstrale het 13 deelnemende skole van Laerskool Stellaland, Stella Gekombineerd, Laerskool Kathu, Laerskool Seodin, Bloemhof Gekombineerd, Futurum Akademie, Laerskool Piet Plessis, Laerskool Wildehondepan, Laerskool Hartswater, Laerskool Schweizer-Reneke, Laerskool Blackrock, Colinda Primêr en CW Kies het netbal- en rugbywedstryde om 08:00 afgeskop, met jong rugbyspanne wat die nat velde aangedurf het. Die sportgronde het gedruis van energie, met ouers, grootouers, vriende en familie wat spelers aangemoedig het.
Die skool het ‘n verskeidenheid eet- en drinkgoed beskikbaar gehad, wat bygedra het tot die gesellige atmosfeer van die dag. Ten spyte van die weer, was die Makiti Sportdag ‘n spoggeleentheid wat sportmangees en gemeenskapstrots laat vlamvat het.