Wat is nou lekkerder om met die reuk van reën in die lug om 03:00 met ‘n vete-raanmotor vanaf Upington na die jaarlikse George Motorskou te vertrek – ‘n tog van ongeveer 14 ure.
Dit is wat ‘n groep van 19 entoesiaste van die Kalahari Oumotorklub (KOMK) op Vrydag 7 Februarie 2025 ervaar het. Die modus operandi na vertrek was allermaal dieselfde – stop in Groblershoop vir brandstof, buite Prieska met eerstelig om bene te rek, weer brandstof in Britstown, groot ontbyt 10 kilometer anderkant Britstown met koue skaapnekke, frikkadelle en allerhande lekkernye, Beaufort-Wes vir brandstof, Mei-ringspoort by die waterval vir middagete,
Oudtshoorn vir klein herstelwerk aan David van der Merwe se bakkie, dan oor die Robinsonpas tot op die terrein van die Eden Tegniese Skool in George waar die Motorskou jaarliks gehou word.
Dit was vanjaar die twintigste opeenvolgende jaar wat lede van die KOMK die George Motorskou besoek het. Vanjaar het ‘n totaal van 12 voertuie van die KOMK die rit meegemaak, wat volgens oorlewering die meeste nog is.
Dit was die eerste jaar wat die George Motorskou slegs op een dag aangebied is, maar het sekerlik sy reputasie as een van die land se beste veteraanmotor byeenkomste gestand gedoen.
Meer as 12 000 besoekers is getrakteer op meer as 1 000 veteraanmotors, motorfietse, trekkers en plaasimplemente.
Die tema van 2025 was Britse voertuie met ‘n besondere uitstalling van Rolls Royce en Bentley voertuie van so oud as die 1930’s wat uitgestal is.
Interessant is dat die eerste Rolls Royce in 1910 in Suid-Afrika aangekom het. Die entoesiasme vir die Britse tema het uitgebrei met die uitstal van fabrikate soos Morris, MGB, Triumph, Austin, Rover en Aston Martin.
Die George Motorskou is 'n lewendige bymekaarkomplek waar 'n gedeelde passie vir klassieke motors tot lewe kom. Besoekers beleef nie net die opwinding nie, maar dra ook by tot die groeiende waardering en bewaring van hierdie tydlose voertuie.
Wat die KOMK se deelname vanjaar betref, was die oudste voertuig op uitstalling Kobus van der Walt se 1928 Ford Model A met Stoffel Viljoen se 1994 Ford Bronco linkerhandstuur die “nuutste”. Die groep het verder bestaan uit drie Volkswagen kewers, drie Mercedes Benz motors, ‘n aantal Fords, ‘n Nissan Maxima en David van der Merwe se Chevrolet Cheyenne bakkie. Veral Gerrie Horn se 1958 Ford Country Estate, kompleet met twee branderplanke op die dak, het baie aandag getrek.
Twee nuwe lede, Pieter van Niekerk en Abraham Viljoen, is vereer met ‘n spesiale balkie wat op die lid se klubhemp vertoon word vir deelname aan die skou.
Die meeste van die lede het oudergewoonte in ‘n skoolkoshuis op die uitstalgronde gebly en was dus deel van alle bedrywighede wat die naweek plaasgevind het.
Die terugtog was soos gewoonlik oor twee dae en ten spyte van motors sonder lugverkoelers bly hierdie naweek ‘n unieke belewenis.
Daar word reeds gepraat van bywoning van volgende jaar se George Motorskou, wat die KOMK se mondigwordingsjaar met bywoning aan hierdie skou sal wees en wat ‘n besondere geleentheid behoort te wees.