Die Griekwaland-Wes tweekamp-kampioenskappe is verlede Saterdag met ‘n oorweldigende sukses op Upington aangebied. Die byeenkoms was daarop gemik om die span te kies wat die provinsie by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Oudtshoorn op 22 Maart sal verteenwoordig. Meer as 100 atlete het deelgeneem met ‘n oog op ‘n plek in die span.
Laerskool Oranje Noord se atlete blink uit by
Griekwaland-Wes Tweekamp.
Die hoogtepunte van die dag was die uitsonderlike prestasies van die top drie atlete:
Llewellyn Orffer – 2111 punte
McNeil De Waal – 2091 punte
Rynhadt van den Bergh – 2085 punte
Protea-span eindig vierde in Internasionale Tent Pegging kampioenskappe
Die Protea Tent Pegging span wat in Pakistan aan die Internasionale Tent Pegging kampioenskappe gaan deelneem het, het algeheel vierde geëindig. Op die eerste dag was hul tweede en op die tweede en derde dag het hul derde geëindig, maar as gevolg van die puntetelling het hul ‘n vierde plek gekry.
Willem, Nortjé, bekende SA ruiter van Upington, wat deel van die span was, sê die spanlede het ernstig siek geword in Pakistan. Dit het beslis ‘n groot invloed gehad op hul prestasies.
Swemklub domineer by NCASA sprints 2025
Met die aanvang van 2025, na ‘n Desember vakansie vol intense swemsessies en toewyding, het Upington Swemklub die naweek van 8 Februarie weer groot gewen by die SPRINTS 2025 in Kimberley.
Upington Swemklub het hierdie naweek eerste geëindig in die Noord-Kaap met ‘n indrukwekkende totaal van 4082 punte. Hulle is gevolg deur Flamingo Aquatics (Kimberley) met 1769 punte en Kathu Tweekamp & Swem met 1696,50 punte.
Die klub het ‘n merkwaardige 61 goue medaljes, 62 silwer medaljes en 53 brons medaljes verower. Ons is ongelooflik trots op elke groen swemkappie wat ons klub met trots verteenwoordig het.
NWK-legends skuur skouers met Bulls en Stormer rugby-sterre
Twee oud-NWK en voormalige Saru-rugbyspelers, Deen “Tonna” Mouton (85) en Christiaan “Boetie Kahn” Oor (80) is op gepaste wyse vereer met ‘n spesiale uitnodiging van die WP--rugbyunie om die afgelope Saterdag se VRK-kragmeting tussen die Stormers en die Vodacom Bulls op die DHL-Kaapse stadion in Kaapstad by te woon.
Die bal is aan die rol gesit deur nog ‘n gesoute ou grote van Tygerberg- en Saru-rugby Peter Jooste, destyds van Kenhardt se wêreld, in samewerking met Graham Abrahams van SuperSport, berig vryskutjoernalis Nick Pretorius.
Vroeg Vrydagoggend is die twee NWK-legends vergesel deur Jesse Clarke, die laaste NWK-kaptein van die 1990-span wat tot die halfeind-stryd teen Boland te staan gekom het en Lionel Losper wat die spanbestuurder was.
Dit was inderdaad ‘n heuglike oomblik vir hierdie oud-rugbyspelers wat soms in baie moeilike omstandighede hul rugby moes gespeel het.
Seodin Skitter by Gamagara Atletiek!
Laerskool Seodin se atlete het hierdie afgelope Vrydag hul merk gemaak by die Gamagara Atletiek, en wát ‘n ongelooflike vertoning was dit nie!
Nie net het die spanne puik presteer nie, maar hulle het ook vyf nuwe rekords gebreek!
Rekordbrekers:
Kiana Swanepoel – O/10 Meisies Gewigstoot (8.39m)
Kgothatso Kajane – O/12 Meisies Hoogspring (1.35m)
Brendan Stapelberg – O/10 Seuns Hoogspring (1.25m)
Franru Rautenbach – O/11 Seuns 100m (13.63 sek)
Franco van den Berg – O/12 Seuns Verspring (4.90m) & 150m (19.94 sek)
Algehele Prestasie:
11 Eerste plekke
16 Tweede plekke
8 Derde plekke
FM Mossies vlieg na die wenstreep!
Soos baie ander skole in die provinsie, het die Voorbereidingskool Fanie Malan se mossie-atletiekseisoen ook die afgelope week weggespring.
Die onder-die-bome-byeenkoms was een groot fees.
Die Graad 3’s het beslis die beste van hulle laaste atletiek-jaar by Fanie Malan gemaak en saam met Mossie het die rasieleiers die atlete se gees behoorlik aangespoor.
Hulle speel nou in die Sasol-liga
Die Young Eagles United FC span, is ‘n meisie sokkerspan wat in 2022 gestig is. Hierdie jong dames woon in Rietfontein in die Mier-gebied. Hulle is baie opgewonde dat hulle in so ‘n kort tydjie al aan die “ Sasol-leaque” kan meeding. Hul afrigter, Nicolene Titus, sê hulle het verlede jaar aan die ZFM streeks-vroueliga deelgeneem en het as wenners uit die stryd getree. Hulle het ook in 2023 die eerste “San Development Cup” gewen. Hierdie is dames wat beslis vanjaar dopgehou moet word.
Northern Lions brul koning teen Upington Lions
Die Upington Lions, verdedigende kampioenspan van die T20-ligatitel, het die span van Keimoes Tigers op hul tuisveld (HS Keimoes) met 71 lopies geklop.
Jaco Beukes (33 van 30 balle), Gert Rupping (31/27 balle) en Chris Voges (34/33 balle) het met die kolf uitgeblink. Willa Delie (3/16) en Jonathan Jansen (2/16) was Tigers se beste boulers. Die tuisspan kon net 74 lopies aanteken waarvan Leandro Goeieman (11 van 12 balle) en Ryan Maasdorp (10 van 21 balle) noemenswaardige tellings kon bymekaarskraap. Die besoekers se Errol Thopp (2/15), Marius Goussard (2/8) en Flippie Ferreira (2/2) het die paaltjies laat kantel. Vir Tigers was dit ‘n teleurstellende vertoning en Lions het gerieflik met 71-lopies gewen.
Tweekamp spring met vaart weg vir 2025
Die afgelope naweek het die eerste tweekamp-byeenkoms vir die nuwe jaar by die Hoërskool Duine-veld plaasgevind.
Onder ’n bloedrooi son op ’n baie warm middag, het die twee-kamp begin.
“Ons wou hê dat dit ’n dag is waaraan almal – van die atlete tot die toeskouers – met genot kan terugdink,” het mnr. Frans du Plessis, die hoof van Upington Tweekamp, verduidelik.
Die deelnemers was ’n diverse groep, wat die gees van inklusiwiteit en gemeenskap weerspieël het.
Die jongste deelnemer, was slegs ses jaar oud.
Rolbal Besigheidsliga om die draai
GEMSBOK-UPINGTON: Upington Rolbalklub se jaarlikse Sasko/H&W Distributors Besigheidsliga word vanjaar weer vir ‘n maand lank vanaf 3 Maart aangebied.
Hierdie kompetisie, wat aanvanklik met 16 spanne vir fondsinsameling en werwing van nuwe lede begin is, het sedertdien so in gewildheid toegeneem dat daar vanjaar 70 inskrywings ontvang is.
Dit het ten doel om rolbal aan die breë plaaslike gemeenskap te promoveer en bied ook vir besighede die geleentheid vir sigbaarheid en spanbou.
Uppie hokkiespeler na Nederland
GEMSBOK-UPINGTON: Zoë Hoving, ‘n graad 10 leerder van Hoërskool Upington, het aan die einde van 2024 die kans gehad om in Nederland te gaan hokkie speel.
Sy het uitstekende opleiding tydens haar toer, deur verskeie afrigters, by verskillende hokkieklubs ontvang. Sy het wedstryde teen die Nederlandse klubs in Den Haag/Dordrecht (DMHC), Tilburg en Hilvarenbeek gespeel. Dit het soveel gereën in Nederland, wat die speel van wedstryde en oefen ‘n uitdaging gemaak het.
Nederland se hokkie-infrastruktuur en -standaarde het ‘n diep indruk op haar gemaak. By sommige klubs was daar ten minste vyf Astor-hokkievelde en kinders begin reeds van kleins af speel.
Lukas Esau se gees sal voortleef in ZFM sport
Die skielike heengaan van “Lukas “Loekie” “Ou Kat” Esau” - ‘n groot gees in die ZFM-distrik se sportkringe, het skokgolwe deur die sportgemeenskap gestuur en gelei tot talle boodskappe van medelye vanuit die verskillende sportorganisasies in ons streek.
Lukas Esau , ‘n werknemer van die departement van sport, kuns en kultuur by die Upington-kantoor in die ZFM-distrik, is skielik op 6 Januarie 2025 oorlede en laat diep spore langs en op menigte sportvelde agter.
Ronald Isaacs skryf namens die United Rugby Voetbal Klub:
Namens die United Rugby Klub familie, staan ons vir ‘n oomblik stil om een van ons oud-spelers, voormalige voorsitter, skeidsregter en rugbyman te onthou.