Twee oud-NWK en voormalige Saru-rugbyspelers, Deen “Tonna” Mouton (85) en Christiaan “Boetie Kahn” Oor (80) is op gepaste wyse vereer met ‘n spesiale uitnodiging van die WP--rugbyunie om die afgelope Saterdag se VRK-kragmeting tussen die Stormers en die Vodacom Bulls op die DHL-Kaapse stadion in Kaapstad by te woon.
Die bal is aan die rol gesit deur nog ‘n gesoute ou grote van Tygerberg- en Saru-rugby Peter Jooste, destyds van Kenhardt se wêreld, in samewerking met Graham Abrahams van SuperSport, berig vryskutjoernalis Nick Pretorius.Vroeg Vrydagoggend is die twee NWK-legends vergesel deur Jesse Clarke, die laaste NWK-kaptein van die 1990-span wat tot die halfeind-stryd teen Boland te staan gekom het en Lionel Losper wat die spanbestuurder was.
Dit was inderdaad ‘n heuglike oomblik vir hierdie oud-rugbyspelers wat soms in baie moeilike omstandighede hul rugby moes gespeel het.
Tonna moes in die sestigerjare saam met sy spanmaats in ‘n lorrie die groot ongemak verduur om rugby te gaan speel.
Die NWK-legends het die afgelope naweek saam met die Vodacom Bulls in die Cullinan-hotel naby die V&A Waterfront tuis gegaan waar hulle nader kennis gemaak het met die Springbok-heelagter Willie le Roux, Ambrose Papier (Springbok-skrumskakel) en Cobus Wiese (Bulls-slot) die broer van die Springbok-agsteman Jasper.
Die Wiese-broers het grootgeword en skoolgegaan in Upington.
Die vier gaste van die WP-rugbyunie was genooi om die Stormers/Bulls kragmeting by te woon in die DHL-Kaapse stadion in Kaapstad.
Hulle was ook voorgestel aan Mark Alexander, president van Saru. “Ek was ontsettend opgewonde toe mnr. Jooste my gebel het en aan my meegedeel het wat hul planne is vir ons Saru-legends”, het Hilton Oor, ‘n familielid van Boetie Kahn, gesê.
Hy het bygevoeg dat dit hopelik die begin van groot dinge vir die NWK-legends kan beteken wat voortspruit uit Jooste se blink idee.
“Dit is ‘n groot voorreg wat ons te beurt geval het veral na die destydse rugbytoere wat ons met ‘n lorrie moes onderneem om by die rugbyveld uit te kom”, het Boetie Kahn gesê.
“Insiggewend, wonderlik en onvergeetlik was ons ervaring in Kaapstad”, aldus Lionel Losper, oud-NWK-vleuel en die laaste spanbestuurder van die gedugte 1990-NWK span wat onder aanvoering van Jesse Clarke die SA-Beker halfeind-stryd teen Boland gehaal het.
“Ons salueer ons oudste NWK-legends vir hul dapperheid en lojale toegewydheid aan die pragtige spel rugby wat soveel opwinding en prestasies oor die dekades aan ons gemeenskap verskaf het”, lui ‘n X-boodskap van ‘n Upington-rugbyondersteuner.