GEMSBOK-UPINGTON: Zoë Hoving, ‘n graad 10 leerder van Hoërskool Upington, het aan die einde van 2024 die kans gehad om in Nederland te gaan hokkie speel.
Sy het uitstekende opleiding tydens haar toer, deur verskeie afrigters, by verskillende hokkieklubs ontvang. Sy het wedstryde teen die Nederlandse klubs in Den Haag/Dordrecht (DMHC), Tilburg en Hilvarenbeek gespeel. Dit het soveel gereën in Nederland, wat die speel van wedstryde en oefen ‘n uitdaging gemaak het.
Nederland se hokkie-infrastruktuur en -standaarde het ‘n diep indruk op haar gemaak. By sommige klubs was daar ten minste vyf Astor-hokkievelde en kinders begin reeds van kleins af speel.
Ten spyte van die reën het die meeste van die wedstryde gelykop geëindig. Nietemin, Zoë was mal oor elke minuut van haar toer. Sy het soveel geleer en blywende vriendskappe met van haar Nederlandse teenstanders sowel as met haar SA spanmaats gemaak.
Die grootste aanpassings was nie net die weer nie, maar ook die intensiteit van die oefensessies.
Waar daar in Suid-Afrika gewoonlik net ‘n uur of twee per dag geoefen word, het hulle daar soms twee wedstryde per dag gespeel. Die daaglikse lang ure het nuwe vaardighede en selfvertroue gebring.
Tussen al die oefensessies en wedstryde, kon hulle Efteling pretpark besoek, asook Madame Tussauds in Amsterdam en het ook ‘n bootrit op die kanaal in Amsterdam ingewerk.
Sy kon ook op die laaste Sondag van haar toer, bietjie besienswaardighede in Zaanse Schans en Volendam doen, voordat sy terug gekeue het na SA.
Hierdie ervaring het Zoë se liefde en passie vir die sport versterk en die doel om eendag vir die Suid-Afrikaanse Olimpiese hokkiespan te speel, bly steeds lewend. Zoë wil graag ander inspireer om nooit hul drome op te gee nie.