UPINGTON: Die Gautengse afdeling van die hooggeregshof in Johannesburg, het ‘n 36-jarige Emmanuel Uzoaga op Vrydag, 17 Januarie 2025, gevonnis op aanklagte van mensehandel, uitlatings en bedrog asook oortreding van die Immigrasiewet.
Uzoaga se regsprobleme het in Mei 2021 begin toe die Upington-polisie ‘n anonieme wenk ontvang het - dat die beskuldigde op die punt was om ‘n (18)-jarige slagoffer per openbare vervoer na Johannesburg te vervoer vir seksuele uitbuiting.
Dit het tydens aanvanklike ondersoek geblyk dat die beskuldigde die slagoffer voorheen na dieselfde plek vervoer het.
Die polisie het aansoek gedoen om ‘n deursoekingslasbrief by die geïdentifiseerde plek, by ‘n huis wat in ‘n bordeel in Lonehill, Johannesburg, omskep is.
Die soektog het in Mei 2021 plaasgevind.
Tydens die uitvoering van die soektog, het die polisie drie ander slagoffers gered - en twee ander verdagtes in hegtenis geneem.
Die hoofbeskuldigde, Uzoaga en sy medepligtige (32) James Okhudili Ugwuoke, albei Nigeriese burgers, is sedert hul inhegtenisneming in onderskeidelik Upington en Johannesburg in aanhouding.
Die derde beskuldigde, Luzinda Pinky Abraham (27), vroulik, was deel van die drie slagoffers wat aanvanklik gered is, maar ondersoek het aan die lig gebring dat sy ‘n rol in die misdaad gespeel het en ‘n lasbrief vir haar inhegtenis-neming is uitgereik.
Al die slagoffers is, onder valse voorwendsels, deur Abraham vanuit Upington na Johannesburg gelok. Abraham is verbind met beskuldigde nommer twee (James Ugwuoke).
Pinky het as middeldame gewerk, om haar ‘vriende’ na Johannesburg te werf - waar hulle vir prostitusie gebruik is en daagliks dwelms gevoer is.
Abrahams is skuldig bevind op die aanklag van vervalsing.
Mnr Uzoaga is soos volg gevonnis: twintig (20) jaar direkte gevangenisstraf op aanklag van mensehandel, vier (4) jaar gevangenisstraf op aanklag van uitlating, vier (4) jaar gevangenisstraf op aanklag van bedrog en 12 maande gevangenisstraf op aanklag van onwettige immigrasie. Alle tellings sal gelyktydig uitgevoer word. Hy is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Me Abrahams is gevonnis tot ‘n boete van R10 000 of 2 jaar gevangenisstraf.
Die provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek in die Noord-Kaap, generaal-majoor Steven Mabuela het sy lede, insluitend die vervolgingspan, gelukgewens met hul harde werk.