GEMSBOK-UPINGTON: Na weke van kontroversie oor die beweerde wanbesteding van fondse by die Noord-Kaapse departement van onderwys, het die departement Vrydag gesê hy het, in strategiese samewerking met die kantoor van die premier en die provinsiale tesourie, suksesvol ‘n noodtoewysing van R100 miljoen verkry - om dringende behoeftes binne die provinsiale skoolstelsel aan te spreek.
“Hierdie aansienlike finansiële ingryping onderstreep die regering se verbintenis tot onderwys as ‘n topprioriteit, wat ‘n optimale en bevorderlike leeromgewing vir alle leerders verseker,” lui die persverklaring van die departement - in direkte teenstelling met die beweringe vanaf rolspelers soos Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie, asook ‘n berig in die Gemsbok - Dept blaas geld terwyl sommige NK skole nie gefinansier word nie” (17 Januarie 2025, bl.3).
Ouers en voogde wat hul kinders twee weke gelede skool toe geneem het, is met ongekende versoeke vir skryfbehoeftes, skoonmaakmateriaal en ander items ontvang, aangesien die departement sedert 2024 versuim het om befondsing vir leer- en onderrigondersteuningsmateriaal, instandhouding, voedselskemas en ander noodsaaklikhede te betaal.
Terwyl die departement sy mislukking erken het, het hy hom net tot gedeeltelike betaling van uitstaande gelde verbind.
Skoolgemeenskappe moes skarrel om onverwagte kostes te dek. Aangesien die departement net 27% van skole se fondse vir leer- en onderrigondersteuningsmateriaal betaal het, word klasse sonder skryfbehoeftes gelaat.
Skole ontvang ook net 35% van hul koshuissubsidies vir twee kwartale, wat ernstige finansiële tekorte op baie kort kennisgewing veroorsaak. Een koshuis naby Calvinia het besluit om leerders oor naweke huis toe te stuur, omdat die skool nie kan bekostig om personeel te betaal en kos te verskaf vir twee nie-skooldae nie. Maar nie alle ouers kan bykomende vervoerkoste bekostig nie.
Opvoeders is onder geweldige druk om klasse uit hul eie sakke aan die gang te hou. Maar sonder finansiering is skole nie noodwendig in staat om opvoeders hul salarisse te betaal nie. ’n Skool in Daniëlskuil is gedwing om befondsing wat vir salarisse bedoel is in 2025 te gebruik om bedryfskoste in 2024 te betaal.
Sonder finansiering kan skole nie die sekuriteit verskaf wat nodig is om vandalisme en diefstal te voorkom nie. Skole in Ritchie getuig van die frekwensie van inbrake en vandalisme na-ure en tydens skoolvakansies.
Die meeste skole wat deur rolspelers en die media genader is, is nie in staat om munisipale rekeninge betyds te betaal nie.
’n Skool in Keimoes sukkel ook om voorafbetaalde elektrisiteit te bekostig. Sonder elektrisiteit kan die skool se pompe nie genoeg water uit die reservoir vir koshuisleerders trek nie.
Die departement kan maklik die fondse kry om noodsaaklike onderwysdienste te dek as dit sy afgronde finansiële bestuur verbeter. In die afgelope boekjaar het die departement meer as R647 miljoen se onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes weggegooi. Terwyl een skool in Ritchie net genoeg voorraad gehad het om kinders uit ‘n verarmde gemeenskap vir twee dae te voed, het die departement sy besteding aan sy eie spyseniering vir amptenare met 50% verhoog. En terwyl skole sonder penne en papier gelaat word, het die departement geskenke ter waarde van meer as R3,5 miljoen uitgedeel.
Rolspelers bevraagteken die wysheid agter uitspattige gala-geleenthede om die laagste matriekslaagsyfer in die land vir die tweede agtereenvolgende jaar te vier. Hierdie befondsing kon tog gebruik gewees het om skole in verarmde gemeenskappe by te staan, waar ouers nie kan bekostig om hul gesinne te voed nie, wat nog te sê om skole op hul werklose rug te dra.