Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - KOSTER - Meer as 120 kampstaanplekke is die naweek van die jaarlikse Eisbenfees uitverhuur aan gesinne wat die hele naweek langs Kosterdam deurgebring het. Dié kampeerders het saam met 1 800 ander feesgangers die beste van hulle naweek gemaak. 
Die naweekprogram het voorsiening gemaak vir elke smaak en voorkeur en die seremoniemeester, Rudi van Niekerk, het dadelik aanklank gevind by die feesgangers en heerlik met die skare gekommunikeer.

Boonop het hy ook sy sangtalent gewys deur deurlopend "goues oues" te sing. Op Saterdag het sy vrou Karen, by hom op die verhoog aangesluit en saam het hulle feesgangers vermaak met hul sang.
Vermaak deur die loop van die naweek het 'n optrede deur Wima van Heerden ingesluit, wat die voorprogramvermaak was. Op Vrydagaand het besoekers Eloff se optrede geniet en Saterdag het die Kitaarkêrels opgetree in aanloop van die hoofvertoning deur Ricus Nel, Renaldo, Tamlyn Wessels, Zander van Wyk en Chris (Plakkies) Steyn.
Vanaf 17:00 was alle oë op die twee grootskerms vir die rugbywedstryd van die Springbokke teen Argentinië. Marso du Preez het in die rugbyraai ‘n biltongruiker gewen met haar eindtelling wat die naaste aan korrek was. 
Andre du Preez van Vetpan was die wenner van die slagbees wat uitgeloot is. 
Ook die kinders het baljaar tydens die fees en het baie tyd spandeer op die springkasteel en ook treintjieritte geniet. Die damomgewing is ten volle benut en daar is in die verfrissende water van die dam geswem en ywerige hengelaars het groot visse uitgetrek. Ander feesgangers soos fietsryers en drawwers het die buitelug geniet, alhoewel hul bietjie moes sweet in die natuur op roetes wat deur ‘n wildsplaas kronkel.
Die terrein het gewemel van verskillende uitstallers van alles en nog wat. Positiewe terugvoer was onder andere: “Baie dankie vir al jul reëlings vir 'n baie suksesvolle fees. Ons het dit baie geniet en baie van die uitleg gehou. Ons sal nou al bespreek vir die volgende fees.”
Niemand het honger gely het nie - in yslike 683 eisbeins is verkoop en verslind en die pap en kaiings en hoenderburgers was inderdaad ook baie gewild.
Vir natuurliefhebbers het die mooi van die sonsondergange oor Kosterdam nie ongesiens verby gegaan nie. Die dam is en was propvol en was in volle glorie sigbaar van onder die massiewe feestent.
Feesorganiseerder Anneleen de Waal het haar tevredenheid en dankbaarheid uitgespreek en die publiek bedank vir hulle ondersteuning. 
* Eisbeinfees 2025 - Algemene navrae: Anneleen de Waal op 082 825 0084 en Elize Maré (stalletjiebesprekings) op 083 444 8993. 
* Fotograaf Marlize Horn het al die aksie van 2024 vasgevang. Sy is van Diamonds & Dreams Photography op 072 129 8648.