Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die Rustenburg Golden Oldies is eerskomende Saterdag, 24 Augustus, weer op hul pos met hul jaarlikse Golden Oldies Motorskou wat vanjaar by die gesellige kuierplek Brauhaus Afrika aangebied word. Onder Rustenburg se motor- en enjingeesdriftiges is die jaarlikse motorskou sekerlik die kersie op die koek van plaaslike gebeurtenisse. Kortom behels die Motorskou ‘n spoguitstalling van ongeveer 200 motors indien nie meer nie, wat wissel van klassieke versamelaarsrygoed, so ‘n bietjie jonger maar nogtans nostalgiese immergroen-modelle wat pragtig gerestoureer is, dalk meer byderwetse “muscle cars”, sogenaamde Street Rods en dan uiters duur en ikoniese motors wat mense se asems sonder uitsondering wegslaan as jy so gelukkig is dat een hiervan by die verkeerslig in die baan langs jou intrek. 

Maar moenie ‘n fout maak nie - daar is ook ‘n verskeidenheid trekkers, motorfietse en statiese enjins - die masjiene wat vroeërjare in Suid-Afrika en trouens wêreldwyd algemeen gebruik is om water te pomp en elektrisiteit op te wek sodat die yskaste kan werk en die ligte kan brand. En as ons ‘n bietjie mag skerts - soos dit die afgelope nagenoeg 10 jaar in Suid-Afrika gaan, moet jy dalk twee keer dink voordat jy joune verkoop? 
Vir mense met petrol, olie (ja natuurlik diesel) en sogenaamde “Voco” (kragparaffien) ook in die bloed, is die motorskou iets wat eenvoudig nie misgeloop mag word nie. Hoewel dit die ideale dag vir pa’s en seuns is om saam onder die blink vuurwaens uit te hang, is dit ook die perfekte uitstappie vir die hele familie - veral aangesien vanjaar se weergawe van die motorskou by Brauhaus Afrika plaasvind - waar ma en sus op die terras kan gaan ontspan as pa en Boet nog steeds nie uitgepraat is oor alles wat onder ‘n motor se enjinkap (of waar ook al) aangaan nie. Heerlike etes en allerlei drinkgoedjies kan uit die Brauhaus-kombuis bestel word terwyl die manne tussen die spoggerige rygoed die grond tot fynstof trap en oor toeka se dae gesels. 
Vanjaar se Motorskou beloof om ‘n groot geleentheid te wees met talle ou- en nuwemotorklubs asook motororganisasies wat verteenwoordig sal wees. Onder dié is daar die Pretoriase Oumotorklub, die Pretoriase Jakaranda VW-klub, die Volvoklub, Lumina-klub van SA, die Centenary Club van Randfontein, Car Collectors Club, Harley Davidson-klub, die manne van die Thunder tour, asook die Hoëveldse Veteraan Trekker en Enjinklub met ‘n klompie statiese enjins. Van Rustenburg se kant sal die bekende Human Jordaan met ‘n paar van sy mooiste enjins ‘n blik oor die dae van ouds kom gee. 
Vir die jongklomp en die mense wat vinnig verveeld raak - ‘n horde stalletjies wat allerlei “foods en goods” verkoop soos leer-artikels en tuisgebak, - sal ook kom geselsies aanknoop. ‘n Biertent met gaskunstenaars en voetejeuk-musiek waar die manne ‘n bietjie lafenis vir die droë kele kan gaan soek en selfs ‘n veilige speelplek vir kinders sal ook beskikbaar wees. 
As jy dalk vroeër in jou onbesonnenheid ‘n afspraak vir Saterdag, 24 Augustus, gemaak het, moet jy dalk vinnig kanselleer - die Golden Oldies Motorskou kan eenvoudig nie misgeloop word nie. Die hekke open reeds om 09:00!