Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Van hoeveel instansies, organisasies of sake-ondernemings in Rustenburg en omgewing weet jy (of jou ouers) wat die bykans onmoontlike vermag het om ‘n volle 100 jaar oud te word? 
Ja ons weet, hoewel daar oor dekades heen talle baanbrekersorganisasies en ware geskiedenismakers uit ons wêreld vorendag gekom het, is dit nie elke dag dat enige instansie sy volgende “verjaarsdag” ‘n “eeufeesviering” kan noem nie.

En in die wêreld van ink en papier (soos ons onlangs in die media verneem het) het die gedrukte media dit oor die afgelope 10 tot 20 jaar nie maklik gehad nie. Nouja, as dit alles vir jou na ‘n mondvol somme klink, is jy waarskynlik reg maar op Saterdag, 12 Oktober, gaan die spreekwoordelike honde huil, die hane kraai en die perde net so maklik horings kry wanneer Rustenburg Herald en sy personeel op ‘n trotse geskiedenis van 100 jaar kan terugkyk. 
Hoewel dit nog vroeg in die feesjaar is en al die besonderhede rondom ons Eeufeesviering nog nie in die fynste besonderhede uitgeklaar is nie, kan Rustenburgers hulle begin gereed maak vir ‘n fees der feeste en sal dié prestasie sonder enige twyfel met ‘n reuse makietie gepaard gaan. Vir Rustenburgers wat al jare hier teen die hange van die Magaliesberg woon, sal daar baie wees om oor te gesels, sal daar ongetwyfeld onvergeetlike herinneringe opgediep word en sal nostalgiese staaltjies oor hoeveel sakke sout Rustenburg Herald sedert die twintigerjare saam met sy gemeenskap opgeëet het, aan die orde van die dag wees. 
Só wil ons ook graag vir ons lesers geleentheid bied om aan ons te skryf en te vertel wat julle van Rustenburg van baie dekades gelede maar in besonder van Rustenburg Herald in sy pioniersdae onthou. 
Is daar nog oulike familiestaaltjies oor Rustenburg en sy mense en sy koerant wat onmoontlik is om te vergeet? Was daar dalk belangrike familie-gebeurtenisse of inderdaad geskiedkundige gebeure wat Rustenburg Herald se nuusblaaie gehaal het. Is jy en jou manlief se troufoto uit die dae van weleer in Rustnburg Herald gepubliseer? Watter ander nuusgebeure rondom dinge wat jy goed kan onthou, het vir jou in Rustenburg Herald uitgestaan?
 Skryf sommer by voorbaat vandag nog aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en vertel vir ons meer hiervan. 
Besonderhede waaroor daar intussen reeds besluit is, is dat Rustenburg Herald se Eeufees ‘n groot adoe gaan wees waarmee ons onder meer hoop om Rustenburg en sy mense weens ‘n beproewende ekonomiese klimaat van die afgelope tyd uit sy winterslaap wakker te skud en ons dorp en sy mense weer op die kaart te plaas. Rustenburg Herald se eeufees sal op Saterdag, 12 Oktober, tydens ‘n egte “Oktoberfest” by Brauhaus Afrika sowat 16 km oos van Rustenburg op die Krugersdorp/Magaliesburgpad plaasvind en feesgangers sal moet regmaak vir ‘n opskop wat van 10:00 tot 18:00 sal duur en vir die res van die jaar as van die aangenaamste gebeurtenisse in ons streek onthou sal word.
Ons Eeufees sal natuurlik gepaard gaan met heerlik eet, drink, kuier en gesels met musiek en dans - iets vir elkeen se maak. Uiteraard sal daar benewens die Brauhaus Afrika-gasvryheid, ook dosyne stalletjies wees wat fluks sake gaan doen en Rustenburgers en besoekers sal aanmoedig om die dag se partytjie enig in sy soort te maak. 
Toegang vir die dag se bedrywighede is R60 vir volwassenes, R30 vir kinders en heeltemal gratis vir kleingoed onder ses jaar. 
Maar so ‘n partytjie sal nie volledig wees sonder die gemeenskap se weer eens volgehoue en lojale ondersteuning in die vorm van spesiale advertensies met boodskappe van gelukwense nie! Rustenburg Herald beoog tans ‘n volwaardige bylaag wat reg sal laat geskied aan ons rol en prestasies oor die afgelope 100 jaar. Meer besonderhede hieroor asook alle ander aktiwiteite wat beplan word, sal binnekort beskikbaar wees. Adverteerders uit ons dorp se sakesektor of privaat-individue wat saam wil fees vier, word nou reeds genooi om ruimte vir hierdie spesiale bladsye vroegtydig te bespreek. 
Tot volledige besonderhede binnekort bekend is, kan adverteerders/individue intussen met ons advertensie-bemarkers - Heleen Verster en Annette du Toit by 014 592 8329 in verbinding tree.