Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Heelwat lesers het oor die afgelope week reeds positief gereageer op die nuus dat Rustenburg Herald se Eeufeesvieringe op Saterdag, 12 Oktober, by die bekende Brauhaus Afrika net buite Rustenburg plaasvind. 
Talle Rustenburgers wat hul lewens lank al hier in die dorpie in die skadu’s van die Magaliesberg woon, sal met ‘n tikkie nostalgie kan onthou hou Rustenburg Herald in hul vroeë kinderjare as’t ware die eerste koerant was waarmee hulle kennis gemaak het en hoe hulle met verloop van die lewe net soos die koerant verskeie metamorfoses tot volwassenheid ondergaan het. 

Nouja, selfs diegene wat dalk nie eers naastenby so lank in Rustenburg gewoon en gewoeker het nie, sal saamstem dat hierdie gewis ‘n mylpyl is wat verdien om behoorlik gevier te word. Die goeie nuus is dat ons Eeufeesvieringe op Saterdag, 12 Oktober, hand-aan-hand met Brauhaus Afrika se jaarlikse Oktoberfest in tipies Duitse styl en tradisie gevier sal word. Met die fees wat van 10:00 tot 18:00 duur, sal daar meer as genoeg geleentheid wees om ou, gunsteling-herinneringe uit die verlede op te diep en die dag behoorlik onder die dam (Olifantsnek) uit te kuier. 
Volop vermaak en geselligheid vir oud en jonk wat eie aan die jaarlikse Brauhaus-gasvryheid en Oktoberfest is, sal deel van die program vorm. Benewens ‘n sopie van jou gunsteling Brauhaus-bier of enigiets anders wat jy verkies, is daar te kus en te keur tussen heerlike etes, happies en versnaperings wat vir die duur van die dag op die spyskaart sal wees. Stalletjies wat allerlei snuisterye en artikels verkoop sal die dag afrond terwyl musiek en dans in almal se smaak vir ekstra opwinding sal sorg. 
Toegang vir die dag beloop ‘n skrale R60 vir volwassenes, R30 vir kinders en vir kinders onder ses jaar is toegang gratis. 
Rustenburg Herald beplan tans ‘n bylaag met ‘n bietjie ekstra agtergrond oor die koerant se jarelange rol in die gemeenskap asook geleentheid vir ons dorp se voorste ondernemings en instansies asook individue om deur middel van betaalde “blokkies” hul gelukwense aan Rustenburg Herald oor te dra. Onthou dat ruimte in hierdie gedenkbylaag beperk is - maak dus vroegtydig die nodige besprekings by ons advertensiebemarkers - Heleen Verster of Annette du Toit by tel 014 592 8329. Trek dan sommer dadelik die dagboek nader en omkring die datum by Saterdag, 12 Oktober met vet, rooi letters wat sê “Groot Feesgeleentheid/Oktoberfest by Brauhaus Afrika!”