RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Antieke enjingeesdriftiges - dis nou die tipe enjins wat vroeërjare op Suid-Afrikaanse plase en trouens regoor die wêreld gebruik is om water te pomp en elektrisiteit op te wek - bied op Saterdag, 15 Februarie, hul gewilde antieke “Enjindag” by die Paul Kruger Lodge/Gastehuis op die R24 net buite Rustenburg aan.
Die Paul Kruger Lodge is skaars ‘n 100 meter duskant die baie bekende Excalibur-kasteel wanneer ‘n mens van Rustenburg in ‘n oostelike rigting op die R24 beweeg.
Dié uitstalling/skou is vir jare reeds bekend vir ‘n groot reeks pragtig-gerestoureerde statiese enjins in feitlik alle kleure en geure (eintlik ruik ‘n mens maar net kragparafien) en die besoeker kan die hande saamslaan oor die kundigheid van versamelaars ten opsigte van die uitstekende vakmanskap rondom die restourasie van die enjins. Enjins uit toeka se dae uit die stal van Lister, Wolseley, Ruston Hornsby, Petter en baie ander sal in die Paul Kruger Lodge se bekende vertoonlaan onder die Jakarandabome en ‘n meer formele vertoonlokaal van die bekende Human Jordaan besigtig kan word.
By vanjaar se enjindag sal nie minder as 44 enjins uitgestal word en uiteraard sal die gepoef-poef/doef-doef van die geduldige ou enjins sommer van ver af gehoor kan word. Mense wat nie bang is vir ‘n bietjie olie en ghries onder die vingernaels word veral genooi om te kom kyk wat die enjinmanne vir hierdie “skoudag” vermag het en om te kom saamgesels oor die dae van lank, lank gelede. Die jaarlikse antieke enjindag by die Paul Kruger Lodge is nou al ‘n bekende jaarlikse instelling en heelwat besoekers van die Willem Prinsloo Landboumuseum in Pretoria woon elke jaar hierdie dag by. Bring gerus die hele familie saam - terwyl die mans in die vertoonlaan skouers skuur en enjins gesels, kuier die vrouens en die kleingoed al te lekker op die groen grasperke onder die bome saam. Moet dus nie vir ma en die kinders by die huis los nie - gesonde vermaak is deesdae amper ‘n luuksheid in die wêreld van vandag!
Goeie nuus is dat toegang heeltemal gratis is en dat ‘n ietsie te ete en te drinke te koop beskikbaar is vir wanneer die hongerpyne begin knaag. Die skou begin om 09:00 en sal tot nagenoeg 14:00 duur.