Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - By Lost Valley Predators net buite Rustenburg is daar die afgelope week groot dankbaarheid nadat ‘n traumatiese hoofstuk oor ‘n leeuwyfie se ontsnapping uit aanhouding ‘n gelukkige einde gehad het. 
Nie alleen is die leeuwyfie (Savannah) veilig en ongedeerd teruggevind slegs twee dae nadat sy op Maandag, 10 Junie, as’t ware deur haar eienaars se vingers geglip en ontsnap het nie, maar tot haar eienaar en hanteerders se verbasing, het sy skaars vier dae later geboorte gegee aan drie pragtige leeuwelpies wat vir Lost Valley Predators ekstatiese goeie nuus was. 

Nadat daar aanvanklik vermoed is dat Savannah waarskynlik op hitte was en dat “romanse” haar moontlik aangespoor het om weg te glip, is die rede vir haar ekskursie spoedig geopenbaar toe sy vanaf 03:00 tot omstreeks 08:00 in die vroeë oggendure van Vadersdag aan drie pragtige en gesonde welpies geboorte geskenk het. Dit is ‘n bekende feit dat die katfamilie geneig is om rond te loop/hulself af te sonder en soms vreemde gedrag te openbaar wanneer dragtige wyfies na ‘n geskikte lêplek soek waar sy ongehinderd haar nuwe kroos in die wêreld kan bring. Die drie welpies - Judha, Shila en Simba - is sonder enige voorval of kommer gebore en Savannah was sommer van meet af ‘n uitstekende ma met meer as genoeg melk vir die jongspan. Met ons aankoms by Lost Valley Predators verlede Vrydag om met die drie nuwe aankomelinge kennis te maak, was die leeutjies spekvet en gesond en wou die drieling die meeste van die tyd net slaap. Leeuwelpies word net soos gewone huiskatte met toe ogies gebore en begin eers ‘n paar dae na hul geboorte om die lewenslig behoorlik te aanskou. 
Fransia Scheepers - bestuurder by Lost Valley Predators - het verduidelik dat die welpies in hul eerste klompie weke deurlopend dopgehou word om te verseker dat hulle veilig, en gevoed bly en dat hulle aan geen ontbering blootgestel word nie. “Mensehande doen in hierdie stadium natuurlik al te graag die babawerk,” volgens Fransia. Goeie nuus vir Rustenburg en trouens, die Suid-Afrikaanse publiek, is dat die drie nuwe welpies binnekort gereed sal wees om die buitewêreld behoorlik te verken en met besoekers kennis te maak. “Jong leeuwelpies het nou maar eenmaal ‘n “moederlike” uitwerking op omtrent al wat mens is en mense hou daarvan om die jong katjies vas te hou en te vertroetel. Veral jong kinders is gaande oor die babaleeutjies en besoekers staan maklik tou vir dié ongewone voorreg. ‘n Mens wonder hoeveel Rustenburgers het geweet dat dit nie nodig is om wye draai te gooi en ver te ry om groot en klein leeus in lewende lywe te sien nie. 
Lost Valley Predators is skaars een kilometer vanaf die afdraai op die Wigwam-pad aan die linkerkant geleë - wees op die uitkyk vir die pleknaambord maar neem ook kennis dat besoekers nie sonder afspraak toegelaat word nie. Hier werk ons per slot van sake met volwasse leeus en ander katte soos tiers en jaguars en ons moet deurlopend seker maak dat die veiligheid van ons besoekers en ons diere die hoogste prioriteit bly. 
Skakel gerus vir Fransia Scheepers by 083 232 9415 om ‘n afspraak te maak en reëlings vir ‘n besoek te maak. Moet egter nie vir té lank uitstel nie - sommige katte is daarvoor bekend dat hulle elke maand in grootte verdubbel en dan is jou “babaleeutjie” al lankal ‘n kwaaikat teen die tyd dat jy jou draaie kry.