Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - “Ek is nie kwaad nie. Liewers ek as iemand anders.” Ten spyte van tweedegraadse brandwonde, sê Dandré Graham sou hy niks verander aan die gebeure van Sondagaand toe hy en sy pa, Barend, saam met die Rustenburgse gemeenskap, ‘n verwoestende brand wat deur die Magaliesberge gewoed het, help bestry het. 
Vanuit sy bed in Life Peglerae Hospitaal vorm die Graham-gesin ‘n beskermde laer rondom Dandré (15), wat reeds Maandagmiddag in die teater deurgebring het om die wonde aan sy gesig, beide arms en linkerheup skoon te maak. Hy is geskeduleer vir ‘n tweede sessie in die teater op Donderdag, 19 September.

 Lede van die gemeenskap is steeds verslae en getraumatiseer ná die vuurhel wat die afgelope naweek verwoesting onder plaaseienaars gesaai het. Vier huise het tot op die grond afgebrand en talle hektaar weigrond is heeltemal weg...
   Dandré se ma, Julyhana, vertel dat die gesin Sondagmiddag tuis gekom het nadat sy, haar oudste dogter, Mari-Ulize (17) en dié se kêrel almal die oggend gedoop is en toe daarna ‘n doodgewone middagete by ‘n plaaslike restaurant geniet het. Barend het na hul tuiskoms vir die eerste keer na etlike ure van familietyd aandag gegee aan sy foon en menige boodskappe gesien wat gevra het vir hulp om die brand te bestry. 
    “Dandré is gebore op ‘n trekker,” skets hy die prentjie toe hy vertel hoe hy en sy seun nie geaarsel het om hul bure te gaan bystaan nie. “Ek het hom van kleins af geleer oor brandbestryding en dit was nie die eerste keer dat ek en hy gaan help het in só ‘n situasie nie.” Só het hulle toe die middag vertrek met hul trekker en bakkie om te help blus aan die vuur. Dandré het die trekker bestuur, wat op ‘n stadium vasgehaak het by ‘n lae wal, waarna hy die trekker in ‘n laer rat gesit en oor die walletjie gery het. In ‘n oogwink het alles verander.  
 Barend onthou: “Dandré was op die trekker in ‘n reeds afgebrande stuk veld, maar toe het die wind onverwags gedraai - die trekker sou verswelg word.” Hy het sy seun van die trekker afgetrek en Dandré het bevestig, “Pappa, ek is OK.”   
Sekondes later het Barend besef dat die trekker steeds vorentoe loop en moontlik deur die vlamme oorweldig sou word (en die brand selfs verder kon versprei).    
 Hy is agterna om die trekker stop te sit, wat oortrek was van olie en diesel.
 In wat soos ‘n paar sekondes, maar tog ook ‘n leeftyd gevoel het, het hy die trekker tot stilstand gebring en teruggekeer om Dandré te soek. Hy was weg.
   In die onmiddellike chaos het Barend uitgevind dat verbygangers in ‘n Land Cruiser vir Dandré opgelaai het en na die hospitaal gehaas het, nadat hulle nie die ambulans wat reeds in die omgewing was, kon opspoor nie.
   Hy het dadelik huis toe gejaag en Julyhana vertel dat sy om 22:36 wakker geskree is deur Barend (“My kind, my kind!”), wat vol roet en rook was. Ook hul jongste dogter, Jessica (12) het genoem dat dit ‘n gesig is wat sy nooit sal vergeet nie. 
   Barend en Julyhana het dorp toe gejaag om  
Dandré by die naaste hospitaal te gaan soek. Dié ouerpaar het hul bewondering en waardering uitgespreek vir die vreemdelinge (op daardie stadium) wat hul seun sonder enige huiwering, in “kritiese oomblikke” bygestaan het. “Die tannie en haar seun het heeltyd vir my gebid op pad hospitaal toe,” beskryf Dandré dié angswekkende rit.
      Na die tyd, het die vrou vir Julyhana vertel watter merkwaardige seun sy het. Dandré het tydens die rit deurgaans ‘n Bybelvers uit Fillipense herhaal. “Ek het nog nooit so pyn gehad nie,” sê hy.      
    Op ‘n moedige pad na herstel, word die gesin oorweldig met oproepe van simpatie en aanbiedinge van hulp. Dandré het aan die einde van ons gesprek sy pa nader getrek en spesifiek gevra dat sy rugbyafrigter by Hoërskool Rustenburg, mnr Gerhard van der Merwe (en sy vrou, Tarien) bedank moet word. Hulle het Sondagaand, in persoon, vir Dandré en die gesin by die hospitaal bygestaan. 
   Barend het twee boodskappe na die voorval: “Bid vir ons gesin. En, hier is ‘n les om te leer - oor die gebrek aan die nodige sisteme, infrastruktuur en toerusting. Anders was dit nie nodig vir mammas en pappas en broers en susters om die brand te gaan bestry nie. Dit moet reggestel word.”