RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Ontvoering vir ‘n losprys is ‘n bedreiging wat wêreldwyd toeneem en volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) se jaarlikse misdaadsyfers het ontvoerings met 264% toegeneem, van 2 692 in 2014/15 tot 17 061 in 2023/24. In Suid-Afrika het lospryse-eise al die R150 miljoen-kerfstok gehaal en al hoe meer verskeringsmaatskappy bied nou opsies vir beskerming teen hierdie tipe misdaad.
Ontvoerders kan verskillende individue in die visier hê vir finansiële gewin, maar veral sekere groepe soos kinders van welgestelde persone (of dié persone self), bestuurshoofde en toeriste is kwesbaar. In sommige gevalle word besighede ook as deel van afpersings- of intimidasietaktieke geteiken.
Dit is skokkend om die Suid-Afrikaanse statistieke rondom ontvoering te lees. Elke dag vind ‘n gemiddeld van 46 ontoerings plaas (meer as 17 000 per jaar). SA se ontvoeringsyfer van 10 uit elke 100 000 landsburgers, is ook van die hoogste in die wêreld. Betreklik klein losprysbedrae van sowat R500 000 of minder word in baie gevalle vir die vrylating van ‘n slagoffer geëis, maar groter losprysbedrae is ook al geëis.
Die meeste ontvoerings kan gekoppel word aan huishoudelike dispute, maar ook aan rowe en kapings, wat baie keer impulsiewe misdade tot gevolg het.
Ryno de Kock, ‘n versekeringskenner van PSG, sê dat ontvoerders (voor-die-hand-liggend) families teiken wat finansiële welstand ervaar. Ontvoer- en losprysversekering is dus veral noodsaaklik vir individue wat as gevolg van hul posisie, status of netto waarde aan risiko blootgestel is. Individue en besighede moet hulself vergewis van ontvoeringsrisiko’s en toe-paslike voorsorgmaatreëls tref om hulself, hul gesinne en hul werkers te beskerm.
Vakansie- en sakereisigers met ‘n hoë netto waarde verstaan reeds dat ontvoer- en losprysversekering die belangrikste vertrekpunt is vir ‘n internasionale reis-program, omdat reisigers as ‘n goeie teiken vir ontvoerings geïdentifiseer is.
Ontvoer- en lospryspolisse dek dus gewoonlik die losprysbetaling, asook die gepaardgaande koste van onderhandeling, ondersoeke en maatreëls om die vrylating van die slagoffer te verseker.
Die sielkundige en emosionele impak van ‘n ontvoering op slagoffers en hul gesinne kan oorweldigend wees en daarom bied hierdie tipe versekering ook toegang tot ervare persone soos onderhandelaars, krisisbestuurders en veiligheidskenners.
Hierdie professionele persone is opgelei om hoogs stresvolle situasies te hanteer en die vrylating van die ontvoerde persoon op ‘n veilige en doeltreffende manier te bewerkstellig.
Twee weke gelede het ‘n ontvoering van ‘n 45-jarige onderwyseres in Gqeberha juis nasionale opslae gemaak nadat drie oortreders haar helder oordag by haar werksplek in ‘n motor geboender en weggejaag het. Sy is egter drie dae later ongedeerd vrygelaat. Skoolontvoerings raak al hoe meer algemeen, omdat dit ‘n maklike ontsnaproete vir ontvoerders bied.
* Dekking kan uitgebrei word om die volgende in te sluit: Verlies van inkomste, mediese onkostes (insluitend berading vir die slagoffer), enige regskostes met betrekking tot die situasie, reisonkoste vir die slagoffer om met hulle familie herenig te word en reputasie- en handelsmerkbeskerming
(veral vir besighede).
Besoek https://bit.ly/psgfinser vir meer inligting oor losprysversekering.