RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Ja, ons moet toegee, met vier oorwinnings in die Wêreldbeker-rugbytoernooi weet die Springbokke waarvan hulle praat as die ovaalbal ter sprake kom.
Maar die Bokke se vier oorwinnings op die wêreld se voorste sportverhoog lyk maar effe gemiddeld as 'n mens na die krieketspan van Australië se ses wêreldbekeroorwinnings kyk.
Gelukkig is daar vir Suid-Afrikaners 'n mate van troos te vind in die feit dat 'n voormalige Suid-Afrikaner 'n leeue-aandeel gehad het in die Aussies se verspot maklike oorwinning (met ses paaltjies) teen Indië wat vanjaar gasheer vir die toernooi was en vir bykans die duur van die toernooi die gunsteling was om die gesogte wêreldbekertrofee omhoog te hou.
Maar ons wonder hoeveel Suid-Afrikaners weet Marnus Labuschagné - een van die twee ster-krieketspelers in die Australiese krieketspan wat Sondag daarin geslaag het om dié toernooi vanjaar vir die sesde keer te wen, is 'n man met baie noue bande met Suid-Afrika, met Noordwes en dan in besonder, met plekke soos Stilfontein, Klerksdorp en Potchefstroom waar hy vroeër jare skoolgegaan het, maar natuurlik ook met Rustenburg. Laasgenoemde was sy ma Alta se oorspronklike tuisdorp en is vandag nog die tuisdorp van sy ouma (Ansie Naudé) en sy ma se jongste (Naudéne Labuschagné) asook oudste suster - Marianne Ray. En dan moet ons dadelik sê - dit is bloot toevallig dat Labuschagné en sy tante Naudéne in Rustenburg dieselfde vanne het - nee, die susters is nie met twee broers of twee neefs getroud nie al het ons ook in 'n stadium só vermoed.
Labuschagné het 2004 as tienjarige seun saam met sy ouers - André en Alta Labuschagné na Australië geëmigreer en het sy krieket Doer Onder tot so 'n mate geslyp dat hy al die afgelope paar jaar 'n gereelde speler in die Australiese span is. Maar sy insluiting as lid van die Australiese Wêreldbekerspan in die uiters mededingende wêreld van internasionale krieket, was vanjaar nie "a matter of course" nie. Daar was vroeër vanjaar, toe Labuschagné toevallig in Suid-Afrika was, nog twyfel of hy wel die span sou haal. In 'n onderhoud met die Australiese media vroeër was Labuschagné nie skaam om te erken dat hy 'n man van geloof is nie en dat sy loopbaan en lewe in die hande van sy Skepper is nie. Natuurlik was daar vir hom groot vreugde toe daar wel aangekondig is dat hy in die span opgeneem is.
Nietemin was die afgelope Sondag vir die Australiese span 'n groot hoogtepunt en mylpaal, indien nie die grootste ooit nie. Na 'n twyfelagtige beurt van 240 almal uit na 50 boulbeurte was 'n oorwinning vir die gasheerland hoegenaamd nie 'n uitgemaakte saak nie en het trouens nie eers veel van 'n uitdaging aan die Australiese kolwers gerig nie. Saam met Marnus Labuschagné wat op nommer 5 kom kolf het, het Travis Head briljant gespeel wat 'n perfekte 192 lopies-vennootskap met Labuschagné ingesluit het voordat hy (Head) uiteindelik met sy telling op 137 op die grens uitgevang is. Labschagné het nie op hom laat wag nie en het 58 lopies nie uit nie aangeteken. Onder die twee sterkolwers wat met uitstekende kolfwerk die grondslag vir 'n Australiese oorwinning gelê het, was nog net Labuschagné daar toe die wenlopies oomblikke later deur Glenn Maxwell geslaan is.
"Ek het nie woorde nie", dit is net 'n ongelooflike wonderlike gevoel om te weet dat ek deel hiervan kon wees en dat ons as 'n span dit reggekry het om hierdie fantastiese prestasie te behaal", het 'n jubelende Labuschagné na die wedstryd gesê. Rustenburg Herald is saam met Labuschagné se Noordwes-familie en sy ouers baie trots op nog 'n pragprestasie op die hoogste vlak in die internasionale sportarena deur 'n speler hier uit ons wêreld!