BONUS - RUSTENBURG - Die AfriForum-tak in Rustenburg het gedurende die eerste kwartaal van 2025 meer as 21 hektaar se gras by plaaslike parke en groenstroke gesny.
Dié tak het gewoonlik sowat vier hektaar se gras in ’n maand gesny, maar danksy die gebruik van ‘n trekker, is 21 hektaar-gras in slegs drie maande gesny.
Terreine waarop daar gefokus is, is die park in Bultstraat (tussen Kerk- en Krugerstraat) en die park by Bobbies-rugbyklub in Krugerstraat. Dan is die groenstroke op die hoeke van Helen Joseph-rylaan en Bovenstraat; Kareelaan en Klopperstraat; Kremetart-, Sesbania- en Makunalaan; en Kloofweg, Landdros- en Schuurmanstraat, ook gesny.
Die tak het veral fokus geplaas op die park in Bultstraat met die doel om hierdie park in die toekoms aan te neem. AfriForum wil ’n veilige en netjiese omgewing vir die gemeenskap skep waar hulle met hul kinders kan uitspan.
“Daar is ’n aansienlike groot verskil aan Rustenburg-inwoners se gemoed wanneer die parke onderhou word omdat dit hulle veiliger laat voel. Met misdadigers wat nie in die parke kan wegkruip nie, neem misdaad af en haweloses vind ’n ander plek om te slaap. As ’n inwoner van Rustenburg lê hierdie projek ná aan my hart en ek sal aanhou om die stad te verbeter,” sê Jan van Zyl, projekleier van AfriForum se Rustenburg-tak.
Die tak nooi belangstellendes uit om deel te neem aan hierdie belangrike inisiatief. “Saam kan ons die skoon parke waardeer en ’n positiewe impak op ons gemeenskap maak. Die deelname en samewerking van die gemeenskap is onontbeerlik om hierdie doelwit te bereik,” voeg Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, by.
* Vir meer inligting of om betrokke te raak by toekomstige projekte en aktiwiteite, word belangstellendes aangemoedig om by AfriForum se Rustenburg-tak aan te sluit. Kontak Dawie Conradie by 082 930 9905.