RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die amptelike opening van die Care Centre Rustenburg by Agapé-gemeente in Cuckoolaan is met groot opwinding deur honderde mense op Sondagaand, 25 Januarie bygewoon.
Dit was ‘n uitsonderlike aand waar die gemeenskap met groot afwagting die opening van hierdie besonderse projek bygewoon het.
Gaskunstenaar, Riana Nel, het ‘n diep en betekenisvolle boodskap gelewer wat die harte van almal aangeraak het. Sy het die seën oor die projek en die gemeenskap gesing.
Tydens die inwyding van die gebou het almal liggies laat brand as simbool van hoop en die lig wat Jesus wil hê ons in die wêreld moet wees.
“Meeste van ons wil ‘n verskil in die wêreld en in ons gemeenskap maak, maar weet nie waar om te begin nie! Ons glo die Care Centre gaan ‘n blywende verskil in soveel mense se lewens in Rustenburg se gemeenskap maak,” het die organiseerders gesê.
Die Care Centre het sy ontstaan gehad tydens Dawie van Schoor se besoek aan die Willow Creek-gemeente in die Verenigde State. Hy het beleef hoe gemeenskappe op ‘n praktiese en deernisvolle manier gedien word. Dit het ‘n blywende indruk gelaat en ‘n begeerte laat ontstaan om ‘n ruimte te skep waar mense in nood op ‘n holistiese manier aangespreek word.
Die visie van Care Centre Rustenburg is om hoop te herstel in mense se lewens, sodat hulle na liggaam, siel en gees kan floreer in plaas van oorleef. Deur die betrokkenheid van vrywilligers, vennote en die breër gemeenskap, gaan daar hoop gebring word waar dit die nodigste is.
Hier is wat gaan gebeur as jy gee: behoeftes van mense word op verskeie vlakke aangespreek; mense wat jy nooit gaan ontmoet nie, gaan die liefde van Jesus in praktiese, persoonlike wyses ervaar; verskeie gemeenskapsprojekte soos slaggate regmaak, barmhartigheidsuitreike, regshulp, geestesgesondheid tot vaardigheidsontwikkeling gaan gedoen word.
Die agt bene waar die Rustenburg-gemeenskap betrokke kan raak, is emosionele welstand, barmhartigheid, regshulp, geestesgesondheid, vaardigheidsontwikkeling, gemeenskapsontwikkeling, basiese gesondheid, en finansiële advies.
“Die Care Centre wil ‘n veilige en versorgende omgewing bied waar mense met waardigheid behandel word en weer moed kan skep vir die toekoms.”
Wil jy betrokke raak of meer weet?
Kontak Marli du Plessis by 082 050 0690.









