RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Ons lewe in ‘n tyd en ‘n land waar gesinsgeweld bykans aan die orde van die dag is - egter, laat dié tipe trauma lewenslange letsels wat sommiges “laat gaan lê in ‘n hopelose hopie” of ander laat “baklei soos ‘n pit bull.”
Hierdie is aldus Petro Kotze-Odendaal, wat onlangs haar eerste boek die lig laat sien het - “Wanneer die krieke stil word”. Petro, wat aan die hand van ‘n alkoholis-pa grootgeword het en toe ook ‘n huwelik vasgevang was met fisiese geweld en verbale misbruik, sê sy val in die tweede kategorie en is ‘n lewende bewys dat traumaleiers wel, deur “harde baklei”, tóg bo kan uitkom.
Petro se eerste boek is ‘n gebaseer op haar eie lewe en vertel van haar lang pad van genade om herstel te bewerkstellig. Dié boek is op Sondag, 29 Junie, in samewerking met Bargain Books Platinum Square by Mitsos restaurant bekend gestel.
Die bekendstelling was vol van hoendervleis-oomblikke soos Petro haar verhaal met die gehoor gedeel het. Alhoewel haar kinderlewe (en ‘n gedeelte van haar volwasse lewe) baie onstuimig was, het Petro benadruk dat dit belangrik is om te “vergeet van gister” en dat vergifnis ‘n “besluit” is en nie ‘n emosie nie. Daar is egter geen tekort aan emosie in “Wanneer die krieke stil word” nie en die leser word op ‘n reis geneem van Petro se mees intieme gedagtes van worsteling, hoop, wanhoop en uiteindelik - “gebreekte vlerke kan weer vlieg”.
Petro het ná skool as pastoor gekwalifiseer en sy het belei dat die Here haar bewaar het dwarsdeur al haar jare van misbruik en verdriet. “Ek was nooit kwaad vir God nie, Hy was my anker. Op ses-jarige ouderdom het God my gekies en gedra deur die jare om staande te bly,” het sy verduidelik. “Almal het bagasie, maar dit is belangrik om mense hoop te gee.”
Petro se boek is tans tweede op die Afrikaanse leeslys en die eerste druk is reeds uitverkoop. “Lees dit, identifiseer jouself en word gesond,” was haar finale boodskap aan die gehoor.