Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Marise le Roux
Waldemar Volschenk is gebore op 6 April 1960 in Zeerust (in die destydse Transvaal). Hy was die jongste van twee broers, gebore vir Phillip en Evonne Volschenk. Alhoewel hy nie in Namibië gebore is nie, het hy in dié land grootgeword en sy kinderjare in Namibië het vir baie opwinding gesorg. Hy het altyd met 'n glimlag op sy gesig teruggedink aan sy kinderjare in 'n huis wat gelykheid (tydens die Apartheidsjare) probeer bevorder het en waarin elkeen (nieteenstaande ras, kultuur, taal of geloof) verwelkom is om te gesels en van mekaar te leer. 

Waldie het altyd met trots vertel hoe sy pa tien tale kon praat en van kindsbeen af het hy die waarde daarvan verstaan om gesonde gesprekke/debatte oor enige saak wat aan die orde van die dag was, aan te vuur. Hy kon ure oor sy grootwordjare praat en oor al die mannewales van hom en sy broer, Eghard, wat net so twee en 'n half jaar ouer as hy was. 
In 1979 matrikuleer Waldie aan die Hoërskool Jan Möhr in Windhoek en daarna begin sy verpligte twee-jaar diensplig in Heidelberg, Suid-Afrika, wat duur tot 1981. Hy het telkens na dié twee jaar in sy lewe verwys as waarskynlik die moeilikste van sy hele lewe en alhoewel hy soms grappenderwys stories vertel het van hom en ander "stout" troepe, het hy die filosofie van geweld en vergelding besweer en sterk veroordeel.
Egter, kom hierdie uitmergelende tydperk in sy lewe tot 'n einde toe hy as klankingenieur kwalifiseer en sy eerste smakie kry van 'n dekades-lange loopbaan in die media - by die Suidwes-Afrika Uitsaaikorporasie (SWAUK) waar hy werksaam was tot en met 1987. 
In die laat 1980's verhuis die gesin na hulle geliefde plasie in die Derby/Boons-omgewing waar Waldie woeker met boerdery, maar sy uiteindelike loopbaan begin by Rustenburg Herald met sy eerste werksdag op 17 Oktober 1989.
Hiér word Waldie se ontluikende skryftalent ontgin deur sy eerste redakteur, David Coetsee, tesame met sy liefde en ontwisbare talent en passie vir fotografie. Deur die jare het verskeie stadsrade gekom en gegaan, "nuwe" kerke het wortel geskiet in en om die Platinastad, generasies het hierheen verhuis en weer weggetrek - en steeds het Waldie se onbaatsugtige verslaggewing elke week die lig gesien.
Met verloop van tyd het Waldie se gehoor agteruit gegaan ek kon hy nie meer so geredelik oor die telefoon gesels soos voorheen nie. Tog, in persoon, was hy steeds (by tye) sy gemoedelike self, (by ander tye) 'n moeilike, hardkoppige, verslaggewer maar (deur dit als), 'n toegewyde en trotse pa en 'n standvastige en betroubare man. 
In 2017 het Waldie se gesin 'n baie moeilike tyd beleef toe hy met hartversaking gediagnoseer is. Na 'n siekbed van sowat vier maande (waarin Waldie steeds met tye sy weeklikse standpunt vanuit sy siekbed getik het) het Waldie weer teruggekeer werk toe, maar ongelukkig het sy hart 'n onherstelbare knou gekry wat sy gesondheid vir die res van sy lewe negatief sou beïnvoeld. Uiteindelik het hy dan ook aan sy hart beswyk op Maandag, 22 Desember 2025 in die Life Wilgers Hospitaal in Pretoria.
Waldie, wat altyd lief daarvoor was om 'n grappie of storie te vertel, se skrywerstem is nou stil... en so ook groet die Rustenburg Herald sy weeklikse standpunt met hierdie uitgawe op Woensdag, 13 Januaries 2026. 
Waldie is en was in baie opsigte, onvervangbaar...