RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Vanjaar se eerste reëns het vir baie Suid-Afrikaners op “omtrent” presies die regte dag, die regte tyd gekom. Vir generasies glo Suid-Afrikaners mos reeds dat die verjaarsdag (10 Oktober) van Paul Kruger - die eertydse president van die Zuid-Afrikaanse Republiek - die dag is waarop die eerste somersreëns sy opwagting moet maak.
Groot dele van die land het sedert verlede Saterdagoggend goeie neerslae gekry en asof ons blydskap oor die eerste reën nie genoeg was nie, was Rustenburg klaarblyklik die enigste noemenswaardige plek waar vloedwaters, maar veral hael, nie skade aangerig het nie.
In die omliggende dorpe van Magaliesburg, Koster, Ventersdorp en Lichtenburg het wydverspeide haelskade tuine erg verniel. Plek-plek het hael ook skade aan voertuie, huise en ander infrastruktuur aangerig. Dit is egter met groot verligting dat inwoners van die Platinastad hierdie keer nie aan die ontvangkant van weerskade was nie.
Wat die gehalte van die neerslae betref, kan Rustenburgers ook nie kla nie. Rustenburg Herald se weersake-ghoeroe - die bekende Charlie Graham - “vader” van Geelhout Gardens Kwekery in Kremetartlaan, Geelhoutpark - se presiese rekordhouding van reënvalsyfers, temperature en alles wat met Suid-Afrikaanse weerpatrone te make het, toon dat ons vanjaar, net soos die afgelope twee tot drie jaar na ‘n goeie reënvalseisoen kan uitsien.
Vir Rustenburg was dit glad nie ‘n slegte afskop van ons reënseisoen nie. In totaal, volgens Graham se rekords, is ‘n goeie 45.2 mm aangeteken sedert reën vroeg Saterdagoggend begin uitsak het. Saterdag van die afgelope naweek was grootliks ‘n sopnat dag, met Sondagoggend en vroegmiddag helder sonskyn. Teen laat Sondagmiddag het die onweerswolke egter kwaai begin saamdrom en inderdaad “gebrom” waarna daar tot omstreeks 09:00 Maandagoggend ‘n totaal van 37.6 mm gemeet is. Maar die weer was Maandagoggend nog lank nie van plan om op te klaar soos baie mense verwag het nie - trouens, vir die res van Maandag het goeie en swaar neerslae met gereelde tussenposes kwaai op die dakke geratel.
Neerslae tot dusver vir Oktober soos deur Charlie gemeet is, was 0.4 mm op 9 Oktober, 6.4 op 11 Oktober, 2 mm op 12 Oktober, 14.4 op 18 Oktober, 8.4 mm op 19 Oktober en 13.6 mm op Maandag, 20 Oktober.
Dit blyk of die Suid-Afrikaanse Weerdiens ook in die kol was toe daar vroeër die week voorspel is dat die swaar weer teen Dinsdagoggend/vroegmiddag se kant sou begin opklaar.









