RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Volgens die spreekwoord, word die aftree-era in ons lewens as die “goue jare” bestempel, maar in die daaglikse lewens van die inwoners van Sonskyn Aftree Oord, het hiérdie jare vir hulle in klatergoud ontaard.
Rustenburg, wat nou al verskeie kere in nasionale nuus opslae gemaak het vir die feit dat dae-lange onderbrekings in elektrisiteit nou die norm geword het, sien maar treurig daar uit wanneer dié kwessie bespreek word.
Wanneer pensioenarisse hul swaarverdiende en karige pensioengeld moet gebruik om brandstof vir kragopwekkers te koop (vir dié bevoorregtes wat dit wel kan bekostig) en swaar hekke oop- en toe moet stoot, om nie eers te praat van honderde rande se kos wat verlore gaan nie, kan mens nie help om ter hemele te roep nie.
Meisie Croucamp, een van Sonskyn se net minder as 100 inwoners, het verlede week in desperaatheid by die Rustenburg Herald kom aanklop om iewers, êrens ‘n greintjie van hoop te probeer nader skraap. Sy vertel dat sy darem ‘n gasstoof het en dat dit soms voel of rye van haar bure by haar agterdeur staan en wag vir ‘n bietjie kookwater om hul medikasie saam met koffie en ‘n stukkie beskuit af te sluk. Natuurlik moet dié water in swaar kanne of skottels op- en afgedra word...
Dewald de Beer, voorsitter van die beheerkomitee, bevestig dat die oord bloot nie die finansies het om hierdie wesenlike probleem aan te spreek nie en dat daar glad nie ‘n alternatief is wanneer die elektrisiteit af is nie. “Totdat die infrastruktuur wat oud en verweer is, reggestel word, sal die situasie nie verander nie,” meen de Beer. “Elke inwoner is op hom- of haarself aangewese.”
Die komitee ondersoek tans die moontlikheid om sonpanele te installeer om die ingangshekke te bedryf - want stel jou voor ‘n pensioenaris met ‘n loopraam/”walker” moet ‘n hek oop en toe stoot, verduidelik de Beer.
Tog blyk dit dat die langtermynoplossing eerder sonkrag sal wees, maar dié is ‘n uitgawe wat bloot nie die boeke sal laat klop nie - “tensy ‘n weldoener uit die gemeenskap ons kan help,” noem De Beer.
Vir die nabye toekoms, blyk dit dat op-die-tande-kners die realiteit vir baie inwoners is.
Tensy iemand kan help?
* Skakel Dewald de Beer by 082 897 3056
vir enige skenkings.









