Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Alhoewel die feestyd tradisioneel ‘n tyd van rus, vrede en vakansie is, het die Swart-gesin ‘n riller van ‘n feestyd ervaar toe hul huis in Thabo Mbeki-rylaan in Oos Einde aan die einde van Desember tot op die grond afgebrand het.
Die rede vir die brand? Diefstal en brandstigting.

Biance Swart het aan Rustenburg Herald vertel dat die gesin kort voor Kersfees by ‘n familielid gaan kuier het vir die naweek en dat hul om ongeveer 02:00 die Sondagoggend (22 Desember) met ‘n oproep wakker gemaak is met die nuus dat hul huis in ligte laaie staan. Die gesin het inderhaas gepak en teruggejaag na hul huis, maar teen die tyd van hul terugkeer, was die meeste van hul gesinsherinneringe verwoes.
Die brandweer het drie brandweerwaens en agt brandbestryders na die toneel gestuur wat toegang tot die huis moes dwing om die brand te bestry. Daar is sowat 18kl water gebruik om die brand te blus, maar die dak het uiteindelik ineengestort en bykans al die huisinhoud is beskadig en/of verwoes. Net so tragies, het die gesin se twee honde (een jong boerboel en ‘n pekinese) ook omgekom in die verterende vuur.
Die familie moes verslae toekyk hoe hul lewens en herinneringe in puin en as lê en hulle moes letterlik deur die brandrommel grou om ‘n paar persoonlike items te “red”. “Slegs vier foto’s van ons kinders het behoue gebly uit ‘n gedeeltelik verbrande album,” het Biance met ontnugtering vertel.
Biance en Jacques het vier pragtige dogters wat nou aan die begin van ‘n skooljaar staan en die kostes om die kroos weer skoolgereed te kry, is hemelhoog. Die gesin is egter teen einde verlede week in kennis gestel dat hul versekering Donderdag (16 Januarie) sou uitbetaal. 
Die verhaal van die gesin se huisversekering is ook ‘n sage op sy eie. “Ons het in Julie 2024 ook ‘n inbraak gehad en het op daardié stadium nie huisversekering gehad nie. Die inbraak het ons egter genoop om wel versekering te kry.”
Die gesin is egter in laat Desember verpletter deur die nuus dat, na bewering, beide die eerste en ook die tweede inbraak (en na bewering, ook die brand) deur hul bure gepleeg is. Die verdagtes het skynbaar toegang tot die huis verkry deur die motorhuis oop te breek, wat aan die agterkant van die huis is en nie van die straat af sigbaar is nie. “Ons moes van die gesteelde items gaan uitken by die polisiestasie en dit was skokkend om my man se skoene/tekkies aan die voete van drie van die verdagtes te sien. Die vroulike verdagte het my dogter se oorfone en hangertjie om haar nek gehad.” Biance vertel met trane in haar oë dat sy nie kan glo dat hul eie bure hul sulke skade kon berokken nie.
Sersant Ofentse Mokgadi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Bojanala-distrik het bevestig dat drie verdagtes op 8 Januarie in die hof verskyn het op ‘n aanklag van onwettige besit van gesteelde goedere. Die aangeklaagdes is Morné van Wyk (42), Pieter Myburgh (34) en Jacobus Blignaut (32). Daar is ten tye van ons ter perse gaan nog nie genoegsame bewyse gewees om hul ook van brandstigting aan te kla nie, maar die saak word steeds ondersoek. Die verdagtes is steeds in aanhouding tot en met hul volgende hofverskyning op Maandag, 20 Januarie.