Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Met die Rustenburg Munisipaliteit se vertoning oor die afgelope tyd ten opsigte van onbeplande krag- of wateronderbrekings is dit sekerlik ‘n onbegonne taak om enige krisis “die ergste in jare” te noem - die reeks krisisse waarteen ‘n mens dié oor ‘n lang termyn moet vergelyk, blyk ongelukkig net té lank te wees. 
Inwoners in bykans elke uitbreiding sal saamstem dat dit nie ‘n oordrewe argument is om aan te voer dat verbruikers reeds vir jare (wat dienslewering betref) aan die agterspeen suig nie. 

Die jongste reeks kragonderbrekings in Ooseinde (Wyk 18) wat in sommige areas reeds langer as ‘n week duur, is maar een hiervan. Volgens DA-raadslid Cobus Nortjé van Wyk  18, sukkel inwoners nie net met dienste nie, maar ook met genoegsame begrip, belangstelling en veral terugvoer deur die Rustenburgse Munisipaliteit aan inwoners wat deur onderbroke dienste geraak word. Trouens, selfs die wyksraadlid (Nortjé) sê dat hy die afgelope tyd te midde van ‘n weeklange onderbreking (een van twee onderbrekings sedert Maandag vandeesweek) geen of min samewerking van die munisipaliteit of sy werkspanne/-voormanne of kontrakteurs gekry het.  Die geringste van die twee onderbrekings is volgens betroubare inligting deur ‘n kabelfout veroorsaak - nogtans was dit nie vir spanne/-voormanne (selfs woordvoerders) van die munisipaliteit moontlik om hoegenaamd ‘n tydsraamwerk aan inwoners van Wyk 18 te gee oor hoe lank dit sou neem om dié probleem te herstel nie.  Die tweede Ooseinde-geval (ook ‘n kragonderbreking weens kabeldiefstal te Beyers Naudé 64) wat teen Dinsdag sy sewende dag gesien het, is ongetwyfeld kommerwekkend omdat dit voorkom asof nie die munisipaliteit of enige van sy betrokkenes ‘n duit vir belastingbetalende inwoners omgee nie. Volgens Nortjé het die munisipaliteit met stilswye op inwoners en sy eie navrae reageer. Trouens, nie eens sy dringende navrae aan die RLM se betrokke direkteure of uitvoerende burgemeester het enigsens reaksie ontlok nie, sê Nortjé. “Die ergste van alles is dat ons intussen verneem het dat die munisipaliteit nie genoegsame fondse of elektriese kabel in sy voorraadstore het ten einde die gesteelde kabel te vervang nie. Net soos by vorige kere met water- en/of kragonderbrekings het munisipale beamptes die gemeenskap verder die harnas ingejaag deur hulle te probeer oorreed om self vir die koste van die kabel op te dok,” het Nortjé aan Rustenburg Herald gesê.
In Wyk 17 het daar sedert vroeg Sondagoggend groot ontevredenheid geheers toe ‘n onbeplande kragonderbreking inwoners van dié wyk se naweek in ‘n teleurstelling laat eindig het. Die onderbreking wat blykbaar aanvanklik deur ‘n gebarste waterpyp by Pilgrims Place langs die N4 veroorsaak is toe die waterspan ‘n elektriese kabel op twee plekke gebreek het in hul pogings om die lek te herstel, het uiteindelik meer as 40 uur geduur. Talle behuisingskomplekse hoog op in Fredericklaan se kragtoevoer is eers Dinsdagoggend om 03:30 herstel en inwoners was tot die uiterste gefrusteer. Talle inwoners het woedend gereageer op die RLM se versuim om sy inwoners op hoogte van sake met die vordering van die herstelprojekte te hou. Daar is ook met frustrasie gereageer op die RLM-werkspanne se skynbare onvermoë om ‘n relatief eenvoudige taak onder die knie te kry.  Net soos inwoners en raadslede van die betrokke wyke waarin kragonderbrekings die afgelope tyd aan die orde van die dag was, is Rustenburg Herald se navrae aan die munisipaliteit met ‘n doodse stilte begroet - ‘n stilte wat om een of ander reeds die afgelope drie weke duur.