Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - As jy jou lewe lank kop-en-skouers bokant die res van jou klasmaats uitstaan, is dit nogal moeilik om nie op hulle "neer te sien nie". Maar Jurie Blignaut (18) van Hoërskool Rustenburg, wat die kerfstok by 1.98m haal, is 'n plat op die aarde jong man met 'n blink toekoms wat wink. 
Terwyl matrikulante regoor die land die laaste paar dae asem opgehou het vir hulle 2024-eksamenuitslae, was die vraagstuk in Jurie se gedagtes nie óf hy sou slaag nie, maar wel hoe góéd hy sou slaag.

Elf onderskeidings later en met 'n gemiddeld van 96.5%, is Jurie die trots van sy ouers, sy skool, sy gemeenskap en (alhoewel baie beskeie) ook homself. Hy is deur die Departement van Basiese Onderwys as die topmatrikulant aangewys in die hele Suid-Afrika (vir kwintiel vier en vyf skole) vir die 2024 akademiese jaar.
Om dié prestasie in perspektief te stel: 724 156 matrikulante het in 2024 eksamen geskryf en Jurie het hulle álmal uitgestof. Ook is sy leerdergemiddeld hoër as die nasionale slaagsyfer in publieke skole (87.3%) en hy het ook amper die gemiddelde slaagsyfer van onafhanklike skole (98.47%) geëwenaar.
Jurie se deursettingsvermoë en werksetiek is reeds male sonder tal geloof en word nou aan ook die groot klok gehang in die nasionale media, maar aangesien Jurie tog in sy hart net 'n "seun" (oftewel jong man) van die Platinastad is, het die Rustenburg Herald met hom gesels oor wie hy by die huis is. Vreemd genoeg, beskryf Jurie homself nie as die volgende Chris Barnard (of iemand soortgelyk nie), maar hy vereenselwig homself met die Disney-karakter, Goofy. "Ek is nog altyd so bietjie uitspattig gewees, maar ek dink ek het darem meer pitte daarbo as wat hy het." 
Tog het Jurie ook 'n ernstige sy. "Ek sukkel om te aanvaar dat ek ook net mens is. Deur my hele skoolloopbaan het ek gestrewe daarna om perfektheid te bereik. Ek sukkel by tye om 'nee' te sê vir verantwoordelikhede, wat dan daartoe lei dat ek myself maklik kan ooreis." Hy het egter goeie leiding by sy onderwysers gekry en in die besonder sy Afrikaanse onderwyseres (Elsa Morris) wat hy beskryf as iemand wat hom gereeld gemaan het om "rustig" te wees. 
Rustig is beslis 'n relatiewe term vir Jurie, wat in 2024 as hoofseun gedien het by sy skool, vir die eerste tennisspan gespeel, en sy talent met tjello-speel en koorsang passievol uitgeleef het. Het het veral sy passie vir kultuur vrye teuels gegee en is dus ook as die Matrikulant van die Jaar (op kultuurvlak) aangewys in 'n gesamentlike erkenning deur die Universiteit van die Vrystaat, Volksblad en Netwerk 24. 
Jurie beoog om 'n mediese graad by die Universiteit van die Vrystaat te voltooi, maar het ook ander toekomsdrome om na Indonesië en Papoea-Nieu-Guinee te reis. Hierdie twee lande het wêreldwyd die grootste konsentrasie indemiese voêlspesies. "Daar is ongelooflike voêlspesies daar in die woude en ek sal dit graag eendag wil gaan besigtig."
Die Platinastad wens Jurie net die beste toe vir sy toekoms en hou met afwagting sy toekomsdoelwitte dop.
* Die matriekklas van 2024 het 'n gemerkte toename behaal in die aantal graad 12's wat met Baccalaureusgraad-toelating geslaag het (veral in kwintiel 1 tot 3 skole, wat tradisioneel minder gegoede leerders bevat). 
* 'n Afname in die getal skole wat nie na wense presteer nie, is ook gemerk en daar is algehele verbetering in distriks- en provinsiale uitslae. 
* Noordwesprovinsie se slaagsyfer is 87.5% en het die vierde plek behaal onder die nege provinsies in die land.
* Langa Thobeka (17) van J M Ntsime High School (Bojanala-distrik) is ook onder die 2024 matriekgroep se toppresteerders in die Noordwesprovinsie.