Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Terwyl Rustenburgers Saterdagmiddag op die punt was om die vreugdevure aan te steek met die Springbokke se geskiedkundige rugby-oorwinning oor die All Blacks het 'n dramatiese vlammehel hom in Cuckoolaan, Safarituine afgespeel toe 'n 51-jarige vroulike polisiekaptein verbonde aan die SAPD, se huis waarin sy reeds 11 jaar woon, grotendeels afgebrand het terwyl sy en 'n vriendin by 'n gewilde kuierplek na die rugby op tv gaan kyk het. 

Kaptein Elzada Grobler vertel dat sy en 'n polisievriendin wat sy 20 jaar laas gesien het besluit het om mekaar by die kuierplek te ontmoet, 'n drankie en iets te ete te geniet en in die kuierplek se gelaaide atmosfeer "toeskouers" van een van die grootste oomblikke in Suid-Afrikaanse rugby was. Die opwinding was egter van korte duur. 
"Omstreeks 18:04 het ek 'n oproep van 'n buurman in Arendweg gekry met die nuus dat my huis (SAPD-eiendom) aan die brand was." 
Sy het haar na die huis gehaas en met haar aankoms 'n menigte inwoners van die buurt aangetref wat besig was om met emmers water, tuinslange en brandblussers die vlamme te probeer blus terwyl ander die huis binne en weer buitentoe gehardloop het om te probeer red wat daar te redde was. Slegs enkele items kon gered word hoewel rook- en brandskade enorme verwoesting gesaai het. 
Mure het gebars en gekraak, yskaste, kampeertoerusting, 'n klein motorfietsie, 'n sitkamerstel en banke, lugversorgers en so meer is in puin gelê. Hoewel die huis nie totaal afgebrand het nie, is dit grotendeels deur die inferno verwoes - 'n dubbelgarage, 'n studeerkamer, kombuis/waskamer en sowat 'n derde van die eiendom se dak was prakties gesproke in puin en die skade word voorlopig op nagenoeg R1.2m beraam. 'n Skerp brandreuk het met ons besoek Maandagmiddag swaar in elke vertrek van die huis gehang. 
Elzada, haar seun Dwane Muller (24), sy vriendin Kayla Robbetse (23) en haar 2-jarige kleinkind het in die huis gewoon. "Ons is dankbaar dat ons ten tye van die voorval nie tuis was nie. 'n Mens wil liewer nie dink wat kon gebeur het indien ons deur vlamme en rook in die huis oorval is nie", het sy aan Rustenburg Herald vertel. Benewens die klein motorfiets is geen ander voertuie of troeteldiere (die familie het drie reuse Rottweilers) vernietig of beseer nie. "Ons is ook uiters dankbaar teenoor die RCCF, Just Med 24-ambulansdienste en paramedici, die WhatsApp-groepies wat die nuus oor ons nagmerrie-ondervinding soos die spreekwoordelike veldbrand help versprei het en die noodienste ontbied het. Die Rustenburgse brandweer was vinnig op die toneel en was baie doeltreffend en professioneel. Natuurlik is ons, ons bure en ander inwoners van die omgewing oneindige dank verskuldig vir hul pogings om die vlamme te blus en van ons besittings te probeer red. Daar was mense wat met kos en lekker eetgoedjies opgedaag het, RPS Sekuriteit wat steeds help om ons besittings en eiendom te beveilig terwyl die ondersoek na die oorsaak van die brand nog nie afgehandel is nie."
"Hoewel ons niemand kan of wil uitsonder nie was ons verstom toe 'n onbekende Samaritaan Sondagoggend voor die huis stilgehou het terwyl ons steeds in ongeloof na die puin en verwoesting rondom ons gestaar het. 'n Man wat ons van geen kant af ken nie het uitgeklim en 'n koevertjie met "vir wat julle ook al nodig het" in my hand gedruk. Ons is so dankbaar vir mense se welwillendheid en die gebede van mense wat ons nie eers ken nie - ja, dit is wonderlik om te lewe met hoop vir die toekoms - baie dankie Rustenburg."