Capture or Kill deur Tom Marcus
Uitgewer: Macmillan
Lesersindruk: Stefaans Coetzee.Tom Marcus se 2018 debuutfiksie, Capture or kill, val 100% in die ek-was-daar-formule van die laaste twee dekades, maar weens sy jarelange agtergrond in die intelligensie wêreld, is sy aanslag vars, en dit alleen het die lees die moeite werd gemaak. Inteendeel, ek het reeds Defend or die gekoop.
Sy skryfstyl herinner weliswaar aan McNab se vroeë werke, maar dit is sy persoonlike kennis as ʼn voormalige MI5-spioen, wat die lewe van ʼn hedendaagse spioen in detail vir ons inkleur, wat lesers gaan verower.
Ons sit (nog) nie hier met ʼn tipe James Bond/James Bourne-superspioen nie, nog minder met ʼn John Le Carré/Charles Cumming/Olen Steinhauer intelligensie skaakspel. Die middeweg is ʼn kombinasie tussen ʼn intelligente magspel en skop-skiet-donner. En dit werk vir hierdie leser.
Die mesaanval in die dieretuin, waarin Matt Logan se vrou en seun sterf, was uiters voorspelbaar (dink aan Vince Flynn se American Assassin), want dit dwing die hoofkarakter om deel te word van ʼn “deniable” eenheid wat vanuit MI5 spruit, genaamd Blindeye. Die twee aanvallers se eintlik teiken is die Buitelandse Sekretaris. Dit maak nie net die mesaanval in die dieretuin vir my onnodig nie, maar ook ongeloofwaardig. Ek is nie seker of terroriste voor so ʼn groot aanval aandag op hulle sou vestig nie. Nietemin, ʼn dag later vermoor Logan iemand - Khalid - om die twee broers se ligging te probeer uitsnuffel. Daarna is dit ʼn Tour de France.
Die skrywer - soos die meeste skrywers met spes magte agtergrond - sal baat om belangrike skrywerstegnieke soos dialoog en karakterisering onder die knie te kry. Maar hierdie skrywers weet dat die lesers nie omgee nie, solank daar soveel aksie in hulle boeke is dat die bloed van die bladsye drup. En daarvan is daar oorgenoeg.
Capture or Kill is geskryf om te vermaak, en moet ook so gelees word. Tog, raak Marcus aan ʼn baie belangrike tema, naamlik: is die doodmaak van ʼn paar geregverdig om die dood van baie te keer? ʼn Reeks gee vir ons die skrywer se antwoord hierop. Ek sien wel uit hoe sy karakter hieruit ontwikkel.
Dit is seker ʼn doellose gedagte hier aan die einde, maar dit voel vir hierdie leser of die skrywer homself terughou. Of hy nog nie seker is hoe hy sy persoonlike kennis mag inspan sonder om die reëls te breek nie. Sonder om te veel weg te gee nie. Sodra hy daardie ritme vind, gaan sy naam met reg saam met McNab en ander genoem word.
Lesers wat van die voormalige Direkteur Generaal van MI5 (1992 - 1996), Stella Rimington, se boeke gehou het, gaan Tom Marcus se boeke begin versamel.