Betereinder: Wees die verskil
deur Schalk van Heerden (NB Uitgewers)Resensie: Stefaans Coetzee
Trek vir ’n oomblik my skoene aan: moordenaar, terroris, rassis en bandiet. Ek het nie net die ANC-regering gehaat nie, ek het die “swart gevaar” beveg. Ek was amper 19 jaar agter tralies uit die liefde vir my eie. Ons vs hulle. In 2007 het my lewe onherroeplik verander. My Damaskusontmoeting het my versoening en vrede laat najaag sodat ek hulle in ons kan verander. Dit het my ook in ’n depressiewe skuldgevoel gedompel.
Na my vrylating in 2015 het ek groente tonnels in gemeenskappe wat ek eens as vyande gesien het opgerig. Ek het kos en klere uitgedeel, ’n dam en ’n klaskamer gebou, ’n kleuterskool en disable centre oorgeverf. Noem dit en ek het dit gedoen. Wonderlike werke waarvoor hierdie jakkals sy stert kon prys, maar ’n klinkende simbaal sonder liefde.
En na ’n bomaanval êrens in die wêreld, sweet ek bloed om die skuldlas af te skud. Ek werk harder en langer ure, maar ongeag wat ek doen, die skuldlas bly daar. Smoor my. As jy wil weet hoe “wit skuld” lyk, kyk na my eerste paar jaar op parool.
Later jare het ek onder leiding van pastoor Ferdie Swanepoel se mentorskap vrede gemaak met my verlede as bomplanter en Suid-Afrika uit liefde begin dien. Ek rank nog daagliks nader aan die erfenis wat ek wil agterlaat, dus is Schalk van Heerden se boek, Betereinder: Wees die verskil, ook vir my ’n tuiskoms. In sý storie voel ek ook tuis in my vel, in my land, in Afrika. Selfs as voormalige regse bomplanter in reënboog Suid-Afrika. Want alles wat mense soos ek en Ferdie predik, leef Van Heerden.
Tom Smith getuig dat die boek éérs geleef is voordat dit geskryf is. Die musikant Bouwer Bosch beam dit wanneer hy opmerk: “Schalk vra die moeilike vrae, maar leef ook die moeilike antwoorde self uit.”
Een van die mees insiggewende stellings in die boek, is wanneer die skrywer se vrou - terwyl hulle voor ’n kaggelvuur sit en winkels en paaie in KwaZulu-Natal brand - opmerk: “Dalk is ons huis se integriteit aan die brand.”
Dit is eers wanneer jy so kras eerlik teenoor jouself kan wees, wat jy waarlik met jou wit vel in Afrika gemaklik is.
Dit is hierdie rou eerlikheid wat my dwing om my siel te ondersoek terwyl ek aan die skrywer se reisgids lees. Nioma Venter, assessor van die NG Kerk se algemene sinode, som die boek op: “Die skrywer skram nie daarvan weg om homself as voorbeeld te gebruik om die slaggate op die pad uit te wys nie.”
Omdat Betereinders vra: “Hoe bou ons ’n land waarbinne ons (en ons kinders) gaan welkom wees?” handel die boek oor doen. Máár sy skrywe basuin nie ’n jota “wit skuld” uit nie, dit is eerder ’n psalm van versoening in aksie. Hy preek nie van die kansel af nie, maar leef sy evangelie in stofstrate uit. Soos Jesus en Sy dissipels beywer die skrywer hom nie vir hedendaagse sosiale geregtigheid nie, maar totale geregtigheid; om reg te doen en reg te maak.
Van Heerden delf diep in klipkou-onderwerpe sonder om my skuldig te laat voel oor my tekortkomings. Hy daag my eerder uit om eerlik te wees met my siel. Nie net as Christen nie, maar veral as Suid-Afrikaner. Vir hom keer politiek dat daar plek is vir al ons naastes.
Dit laat my hardop wonder: ons was bereid om mekaar vir dié land te moor – hoekom nie ook sáám aan ’n beter toekoms vir almal (met klem op almal) bou nie?
Jammer sê, skryf hy, gaan nie net oor woorde nie, maar is vervat in hoe ek my tyd, geld en kontakte benut. Dit lê in ’n gesindheid.
Die skrywer gebruik ’n slim tegniek om sy teks met foto’s af te wissel asof hy nie-lesers ook in sy dialoog wil betrek. Voordat jy jou kan kry, is jy deur ’n hoofstuk. Al moes jy plek-plek stilstaan om jou hart te toets.
Hy gebruik nie Skrifgedeeltes om lesers skuldig te laat voel nie, maar huiwer ook nie om reguit te praat nie.
Na dese het hoop ’n naam gekry, naamlik Betereinder. Wees die verskil.