Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Vir die eerste keer in nege jaar bied Bolt & Engineering weer ‘n Industriële en Tegnologie Ekspo aan, en diegene wat weet, sê dit is ‘n ekspo wat jy nie mag mis nie. Selfs al het jy twee linkerhande en maak nie kop of stert uit van kraggereedskap nie, sal jy welkom voel by die ekspo wat dié week by Flamwood Walk gehou word.
Bekende handelsmerke soos Gedore, Spanjaard, Bosch, Kärcher, Milwaukee tools, Fronius Sweis, Hypertherm, en SKF het stalletjies by die ekspo wat laas in 2015 aangebied is. Meer as 60 uitstallers gaan die ekspo bywoon.
Bolt & Engineering is gemagtigde agente van SKF, alleen invoerders van Fronius vir Suid Afrika en voer self Hypertherm in. Suid-Afrika se gunsteling cousin, Barry Hilton, gaan rondhang by Einhell Power Tools se stalletjie, en twee rugbylegendes, Bismarck en Jannie du Plessis kom ook by die ekspo kuier.
Die eerste Bolt & Engineering Distributors (Group) (BED) ekspo is in 2001 in Klerksdorp gehou. Toe was ‘n middagete kaartjie nog R20, en kliënte het op handgeskrewe bestellings gekoop. Daar was net 12 uitstallers by die eerste ekspo van handgereedskap, hardeware, kraggereedskap tot verf, sweis en snygereedskap is ten toon gestel.
BED se produkte en dienste reeks stryk wyd met ‘n diverse reeks produkte - van toiletpapier na SKF laers (bearings en grease). BED is in 1983 gestig deur Ernie Barnett en Mike Giltrow, en word nou bestuur deur
Mike Giltrow en Jan Viljoen na Barnett se aftrede. Viljoen is die meesterbrein agter die ekspo.
BED het ‘n landswye voetspoor wat strek oor sewe provinsies met takke in Klerksdorp, Welkom, Rustenburg, Ellisras, Tshwane, Middelburg - Secunda, Burgersfort, Wadeville, Kathu en in Stilkand, Kaapstad. Die uitvoere departement strek sover as die DRC.
Die ekspo wat op 6 en 7 November plaasvind, gaan iets vir oud en jonk bied.
As jy nie ‘n handige persoon is nie, is daar tot besems en tuingereedskap. Of kom ondersteun Cancervice se stalletjie en koop vir jou ‘n unieke pienk toolbox of graaf ter ondersteuning van hul goeie werk in gemeenskappe.
Heerlike kos, koeldrank en koffiestalletjies is beskikbaar en Tjoepie van Farm Space kom ook inloer. Hekke is oop daagliks van 08:00-17:00.