Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Aardklop 2024 is verby in ‘n oogwink. Die feesdatums vir 2025 is 7-12 Oktober. In hulle derduisende het die mense vanoor die land gekom vir vanjaar se Aardklop, wat van 24 tot 29 September in dié universiteitstad aangebied is. Daar is feesgevier dat die biesies bewe, met aanbiedings wat letterlik iets vir elke smaak en gier ingesluit het.
En alles het seepglad verloop, soos ’n goed-geoliede masjien.
Die feesterrein het geklop van soggens tot saans, met veral Early B, Bobby van Jaarsveld, Nádine en Refentse wat groot aftrek gekry het. Hier het die tientalle kosstalletjies ook ’n verskeidenheid heerlikhede gebied waaroor talle feesgangers gaande was.
As daar een ding is wat soos ’n goue draad deur vanjaar se fees geloop het, is dit die fokus op gemeensaamheid, die dinge wat ons verbind, eerder as dit wat ons anders maak. Soos Sinki Mlambo, die NWU se digitale bemarkingsbestuurder, vertel van haar ervaring van Laaitie mettie biscuits, wat by Aardklop gedebuteer het: “Aan die einde, toe die hele gehoor in trane is, vind ek (die sjokolade-millennial ek) troos by ’n tannie (grys en vanilla sy). Ons huil saam, vee mekaar se trane af en deel tissues. Soos ek uitloop, kan ek nie help om te dink oor hoe Noah, al was dit so seer, op hierdie manier brûe bou nie. Ek en die vanilla tannie stap nie dieselfde pad nie, maar teater, Noah, die laaitie, en die gedeelde pyn - en dalk ook die pleidooi vir ander se vryhede - bring ons vir ’n oomblik saam.”
Nog ‘n toneelstuk wat groot aftrek gekry het, was Ken jy vir Dewie? Vir Salomé Kotzé, Klerksdorp Rekord se redakteur, was die opvoering soos ‘n vuishou in die maag. “Dit gaan oor skool, en skoolkinders en aanvaarding, en boelies, en juffrouens, en witbroodjies... ek was weer terug op die skoolbanke en dit was nie lekker nie. Dit was regtig ‘n fantastiese produksie.’’
Daar was ook geen tekort aan ernstige gesprekvoering by vanjaar se fees nie, soos beliggaam in Lourensa Eckard se gesprek oor die RNE met dr Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF+, en Willie Aucamp, die DA se nasionale woordvoerder. Nog ’n gesprek wat goed bygewoon is, was die paneelgesprek - met onder andere Kabous Meiring, prof Hans du Plessis en René Arendse, adjunkkoördineerder van die Afrikaans 100-projek - oor dialekte, taalwording en die geskiedenis en toekoms van Afrikaans.
Wat verhoogproduksies betref, was daar heelwat hoogtepunte. Enkeles waarop feesgangers op sosiale media kommentaar gelewer het, was Amanda Strydom se Hoe ons voel, David Viviers en Wessel Pretorius se ’n Dag in die lewe van ’n vrugtevlieg, -Loos met Joanie Combrink en Laurinda Hofmeyr, en Coenie de Villiers en Deon Meyer se Roem: ’n Musiekverhaal (wat een feesganger so geniet het dat sy dit sommer twee keer gaan kyk het).
Die visuele kuns-aanbod by vanjaar se fees was ook uiteenlopend, en feesgangers het daagliks twee geleenthede gehad om begeleide toere van die uitstallings mee te maak. Een van die aangrypendste uitstallings was Rory du Plessis se Ek sien jou / I see you / Sawubona, skryf Elsje Jordaan, ’n student aan die NWU se Skool vir Kommunikasie en een van Aardklop se Nuushonde. Dit fokus op 19de eeuse portrette van Suid-Afrikaners met intellektuele gestremdhede.
“Die uitstalling, waarvan die materiaal uit die rekords van die eertydse Grahamstown Lunatic Asylum kom, werp lig op die lewe van mense wat destyds geïsoleer en misverstaan is. Dit is ’n uitnodiging tot introspeksie en bewusmaking van die geskiedenis van mense met gestremdhede in SA.”