Klerksdorp Midweek, Orkney - Bywette oor die regulering van spaza-winkels en informele straathandelaars, is verlede week tydens ʼn raadsvergadering van die dr Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit goedgekeur.
Hierdie raadsbesluit volg ná volgehoue druk van die VF Plus sedert 2023, aldus rdl Mariska van Tonder. Volgens haar het die formalisering van die bywette onder meer gesloer weens die ANC-beheerde munisipaliteit se versuim om tydig die korrekte openbare deelnameprosesse in werking te stel.
“Die VF Plus het deurlopend beklemtoon dat veral kinders aan onhigiëniese voedsel blootgestel word weens die munisipaliteit se versuim om die plaaslike voedselbedryf behoorlik te reguleer. Onlangse voorvalle van voedselvergiftiging in die gebied het weereens die noodsaak van behoorlike regulering belig.”
Die bywette sal eersdaags in die Gazette gepubliseer word. Kleinhandelaars in die bedryf sal voortaan jaarliks ʼn sertifiseringsproses moet ondergaan teen tariewe wat wissel van R465 tot R960 per jaar. Die regulasies sal ook van toepassing wees op kleuterskole en dagsorgsentrums.
“Die VF Plus sal die implementering van die regulasies monitor om te verseker dat gemeenskappe en veral kinders in die gebied nie verder blootgestel word aan voorkombare gesondheidsrisiko’s nie”, sê Van Tonder.