Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - ’n Kunstefees is nie ’n ware kunstefees sonder, wel, kuns nie. Wat die aanbod van visuele kuns betref, het die feeskurator, MC Roodt, ses debuut-uitstallings van uiteenlopende kunstenaars ingesluit.
Kutlwano Monyai se Absolute Stillness is hekelwerk soos jy dit nog nooit gesien het nie. Hierdie uitstalling verken die toestand van stilte te midde van chaos en verandering. Absolute stilte ontstaan wanneer jy besef die liggaam kan tot op breekpunt weerstand bied, en dat emosies en die siel onrustig bly sonder die genesende aard van stilte.
Wanneer ’n mens hekel, skep jy nie net estetiese of huishoudelike produkte nie - jy verrig ’n spirituele daad wat liggaam, siel en gees betrek.
Dié uitstalling is ’n taktiele en spirituele ondersoek na stilte te midde van chaos, waar hekel en kleurgebruik dien as genesende praktyk en ’n visuele taal vir emosionele verweefdheid, balans en innerlike vrede.
Op sy beurt ondersoek Jaco van Schalkwyk se Corpus Naturae (“die liggaam van die natuur”) ook verweefdheid - in dié geval tussen menslike identiteit en die natuurlike wêreld. Dit plaas die fokus spesifiek op liggame wat dikwels as anders beskou word en belig hul inherente plek binne die natuur.
Met Hallusinasies van die Vaal besin Rhett Martyn oor ervarings wat nie eerstehands beleef is nie, maar deur ander dokumentasie betree word.
Gefragmenteerde aanlyn beelde wat temas van onderdompeling, eensaamheid en landskap suggereer, dien as vertrekpunt. Die werke is drie keer bemiddel - deur iemand anders se ervaring, die visuele vaslegging daarvan, en uiteindelik die herinterpretasie op papier. Die tekeninge nooi die kyker om verby die oppervlak te kyk en dieper, psigologiese landskappe te verken wat steeds in die kollektiewe bewussyn voortleef.
Soos die titel Ashes to Ashes suggereer, fokus dié uitstalling van Donavan Mynhardt op verganklikheid. Ongeag geslag, ras, sosiale status, geloof of politieke ideologie, die een kernwaarheid van die mens is dat almal sterf.
Ons is terselfdertyd gefassineer en beangs deur ons eie afsterwe. “This exhibition does not seek to glorify death, but rather to prompt reflection on life,” skryf Mynhardt in die programnota. “Death humbles us. The afterlife intrigues us. It makes us kinder, more empathetic, and perhaps most importantly - equal - even if only for a moment.”
Omgekeerd en Vice Versa is twee uitstallings wat ’n dinamiese groep kunstenaars byeenbring met ’n reeks eksperimentele werke, om die beginsel van fisieke of emosionele beweging metafories te ondersoek. Die uitstallings sluit ’n variasie van nuwe en tradisionele media, installasie, rolprentkuns en AR (augmented reality) in.
Besoek aardklop.co.za vir meer inligting en die volledige feesprogram. Kaartjies vir Momentum Aardklop 2025 word vanjaar deur Webtickets verkoop.