Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die eerste Pick n Pay stalletjiemark vir die jaar vind op 25 Januarie plaas en die organiseerders beplan om die nuwe jaar op ‘n hoë noot te begin. Een van die hoogtepunte van die mark is die gewilde jaarlikse kolwyntjie versier kompetisie vir kinders wat om 10:00 begin.
Die drie afdelings waarin deelgeneem kan word, is 4 tot 6 jaar, 7 tot 9 jaar en 10 tot 13 jaar.
Die inskrywings kos R20 en daar is pryse wat gewen kan word.
Daar is ook groot afwagting vir die beskuitproekompetisie.
Al die baasbakkers van Klerksdorp en omgewing word spesiaal genooi om vir die kompetisie in te skryf.
Die inskrywings kos R30 per soort beskuit (10 stukkies beskuit per inskrywing). Die naam van die bakker en die soort beskuit moet op die verpakking aangebring wees. Die inskrywings sluit op 24 Januarie om 12:00 en alle beskuit moet op markdag teen 08:30 by die mark ingehandig word.
Die eerste beoordeling is om 09:00 met die beste vyf inskrywings wat deurdring na die finale beoordeling om 11:00.
Daar is nog stalletjiestaanplek beskikbaar teen R100 elk en toegang tot die mark is gratis.
Skakel Tinus by 083 294 8077 vir meer inligting en stalletjiebesprekings.