Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *
18
Fri, Oct

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

STELLALANDER-BRAY: ‘n Jong boer in die Bray-omgewing, het Sondag, 26 November ‘n tragedie in die gesig gestaar, toe hy vind dat 33 koeie en 11 kalwers op sy plaas Good Hope vergitig is. Van die koeie was dragtig en ander het kalwers gehad, wat 24 kalwers wees laat. 


Volgens videos wat wyd en syd op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe die dooie beeste en ander wat besig was om dood te gaan gesaai lê op Ockert Goosen (25) se plaas. Dooie uile en voëls is ook by die waterkrippe gevind. Goosen en ‘n vriend het ‘n verdagte en sy voertuig, wat bekend is in die gemeenskap, Saterdagaand, 25 November op die sekuriteitskameras opgemerk en alarm gemaak op die plaaslike sekuriteitsgroep. Goosen en sy vriend het na die plaas gery, ongeveer 80km van hulle af en die verdagte voertuig opgemerk. Hulle het die voertuig op ‘n afstand agtervolg maar kon op daardie stadium nie enige bewys van diefstal sien nie. Na ‘n lang nag van patrollies om enige diefstal te bekamp is hulle 4:00 die Sondagoggend huis toe, net om later in kennis gestel te word deur plaaswerkers, dat beeste dood is en dat daar deur die nag gif in die water en kos krippe gegooi is. Inligting uit die gemeenskap het navore gekom dat ‘n veediefstalmisdaadsindikaat die gemeenskap vir meer as 12 jaar terroriseer, vee steel en vergiftig, onwettige toegang verkry tot plase, brandstigting, algemene intimidasie, en die lewens van enige individu wat dit waag om uit te praat te bedreig. Talle sake is oor die tydperk van 12 jaar by die Bray polisie geopen, maar die SAPD het met elke tree van die pad voete gesleep. Die beweerde misdaadsindikaatbaas is ‘n bekende individu en is herhaaldelik op videomateriaal opgeneem, maar is steeds vry om sy skrikbewind oor die gemeenskap voort te sit. Ockert en sy pa, Okkie het ook na Bray polisie toe gegaan om ‘n saak te maak, nadat daar op 12 November agt kalwers gesteel is. Ockert het videomateriaal van ‘n sekuriteitskamera gehad waarin die verdagte se voertuig duidelik gesien kan word. Volgens Ockert het die polisie teensinnig hulle verklarings afgeneem eers nadat daar gedreig is om ‘n video van hulle te neem waarin hulle weier om ‘n saak te maak. Skaars ‘n paar dae later, is nog ‘n boer in die omgewing se beeste gesteel en dieselfde verdagte is weer op die sekuriteitskaeras vasgevang. Volgens inligting het dié verdagte misdaadsidikaathoof in die omgewing, ’n dreigende stemboodskap aan Goosen gestuur. Goosen, sy medeboere en werkers, het massagrafte vir die beeste gegrou en die vergiftigde beeste gebrand sodat die gif nie verdere diere lewe kan dood nie. Carin Visser, DA woordvoereder in die Kagisano-Molopo Munisipale gebied, sê die DA in die Noordwes het aan die nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Fannie Masemola, en die minister van polisie, Bheki Cele, ‘n brief gestuur met ’n versoek vir die dringende mobilisering van ‘n spesiale taakspan van die SAPD om die veediefstalmisdaadsindikaat wat regdeur die Kagisano-Molopo gebied werksaam is, te ondersoek. Volgens Visser word beweer dat dié spesifieke veediefstalmisdaadsindikaat ook in die Vrystaat en Limpopo bedrywig is. “Die Nasionale Polisiekommissaris moet ‘n spesiale taakspan, wat van buite Noordwes ontplooi is, mobiliseer om te ondersoek of die Bray polisie gekompromitteer is en die agterstande wat hierdie misdaadsindikaat impliseer, noukeurig ondersoek. Die SAPD behoort ook bykomende eenhede te ontplooi om sigbaarheid rondom geteikende plase en gemeenskappe te verbeter en ‘n bedreigingsbeoordeling te doen op individue wat doodsdreigemente ontvang het, sodat bykomende beskerming aan hulle beskikbaar gestel kan word, weer van buite die provinsie ontplooi,” sê Visser. Visser sê vereder dat dit onaanvaarbaar is dat boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe misdaad op hul eie moet beveg sonder die ondersteuning van die polisie, en beide die Noordwes provinsiale en nasionale regering. Dit is onaanvaarbaar dat landelike gemeenskappe, boere, plaaswerkers en hul gesinne op hierdie wyse deur georganiseerde misdaad geterroriseer word terwyl hulle ‘n strawwe klimaat, beurtkrag, droogte, vloede, vernietigende veldbrande, hoë insetkoste en ‘n swak ekonomiese vooruitsig moet verduur om voedsel vir Suid-Afrikaners te produseer. Volgens Noordwes polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone, het die Provinsiale polisiebestuur onder leiding van luitenant-generaal Sello Kwena ‘n ondersoekspan gestig om ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging te ondersoek nadat ongeveer 44 beeste vergiftig is. Mokgwabone sê as deel van die ondersoek na die registrasie van die saak, het die polisie die toneel op Sondag, 26 November, bygewoon en monsters geneem vir forensiese ontleding. Die span sal ook na alle bewerings kyk, insluitend die skynbare bestaan van veediefstalsindikaat in die gebied. Die polisie versoek dus enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help om kolonel Dawie de Lange by 082 372 4528 te kontak of die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Stopmisdaadnommer: 08600 10111 te skakel. Alternatiewelik kan inligting of wenke gekommunikeer via die MySAPS-toepassing vanaf een se slimfoon. Die tragedie wat vir Ockert Goosen in sy wese geskok het, het hom met ‘n geweldige skuldlas gelaat omdat hy deur harde werk en skuld die boerdery begin het. “‘n Boer se liefde vir sy diere en passie vir boerdery is sy grootste motivering in die lewe. Die finansiële aspek is minder en net nodig om sy passie aan die gang te hou,”sê Goosen. Verskeie boere in die Louwna- en Zeerust-omgewing het dragtige koeie en beeste aan Goosen geskenk na die groot verlies en skade wat hy ondervind het. Mokgwabone sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se polisiebestuur is daartoe verbind om ‘n professionele diens aan die gemeenskap te lewer. In geval van enige ontevredenheid word lede van die gemeenskap versoek om hul plaaslike stasiebevelvoerders, distrikskommissarisse of die provinsiale diensklagtekantoor by 082 856 0995 te kontak.