Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *
01
Tue, Jul

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

STELLALANDER-BLOEMHOF: Tydens Bloemhof VLU se vergadering op Woensdag, 11 Junie 2025 het lede ’n besondere en leersame praatjie bygewoon oor byeboerdery, aangebied deur Ida Jacobs van Schweizer-Reneke. 
Haar liefde vir bye het op verrassende wyse ontstaan – toe ’n swerm hul intrek neem in ’n wynvaatjie wat op haar stoep gestaan het.

Jacobs het die vaatjie oorspronklik vir dekoratiewe doeleindes gekoop, maar toe sy die naweek ’n klomp gaste verwag het, het sy besluit om die bye nie dood te maak nie. “Bye is deel van God se skepping en speel ’n onontbeerlike rol in ons ekosisteem,” het sy gesê. In plaas daarvan het sy dadelik navorsing gedoen en ’n byekorf geleen. Omdat bye geneig is om hul oorspronklike nesplek te probeer opspoor, moes sy die swerm sowat ses kilometer van haar huis af verskuif. In haar aanbieding het Jacobs die belangrike rol van bye in bestuiwing uitgelig – ’n proses wat noodsaaklik is vir die voortplanting van blomme, vrugte en groente. Sy het ook praktiese wenke gedeel oor die toerusting wat nodig is vir suksesvolle byeboerdery: van mensgemaakte korwe tot byeboerdery-pakke met hoede, gaas en handskoene. ’n Fietsry-span sou skaars meer gedissiplineerd kon wees as ’n byekorf: Die koninginby is die enigste volwasse wyfie wat eiers lê – soms tot 2 000 per dag in die somer. Jong werkerbye versorg die koningin deur haar te voed, skoon te hou en teen gevare te beskerm, terwyl ander werkerbye die larwes versorg en die heuningkoeke bou en onderhou. Die ouer werkers verlaat die korf om nektar, stuifmeel en water in te samel – ’n proses wat uiteindelik tot die vorming van heuning lei wanneer hulle die nektar herhaaldelik insluk en weer uitbring totdat die voginhoud afneem tot sowat 20%. Selfs in die winter staan die byekolonie nie stil nie – die bye vibreer hul vlerke om warmte te genereer en gebruik die heuning as hul energiebron. ’n Tipiese byekorf huisves tussen 60 000 en 80 000 bye – ’n dinamiese en georganiseerde gemeenskap. Jacobs het afgesluit deur te sê dat bye ons ’n belangrike lewensles leer: “Hulle gee nie moed op nie, werk hard en doen hul deel met toewyding. Dit is iets waarna ons almal kan streef.” Lede van die VLU het die aanbieding as inspirerend en insiggewend beleef – ’n herinnering aan die waarde van die natuur en die krag van samewerking en volharding.