STELLALANDER-VRYBURG: Die jaarlikse Charolais Showcase-veiling is op Donderdag, 30 Oktober 2025, by die Vryburg-skougrond aangebied, waar kopers en telers van regoor die streek saamgetrek het vir ’n uitmuntende aanbod van gehalte stoetvee.
Die veiling, aangebied deur André Kock en Seun, Vryburg in samewerking met die Charolais Showcase-groep, is as ’n groot sukses beskryf. Volgens die organiseerders is almal wat die dag se verrigtinge bygewoon en ondersteun het, groot dank verskuldig vir hul bydrae tot nóg ’n hoogs geslaagde veiling.
Die topverkoper van die dag was Lot 7: Loumotta Magnum, aangebied deur Loutjie en Wilru Campher van Loumotta Charolais in Ventersdorp. Die bul is vir ’n indrukwekkende R280 000 aangekoop deur Malemba Boerdery van Louwna, onder eienaarskap van Andries Swart. Die tweede duurste bul, Lot 11, aangebied deur Andries Dreyer van Buffelsvallei Charolais (Ventersdorp), is vir R200 000 verkoop aan Badacel Boerdery, onder eienaarskap van Davie van der Merwe van Schweizer-Reneke. Alle diere wat op die veiling aangebied is, is suksesvol verkoop. Die veilingsgemiddeldes was soos volg: Stoetbulle: R108 695.65, Stoetkoei met kalf: R25 000.00, Stoetkoeie: R23 000.00, Dragtige stoetverse: R33 000.00 en Stoetverse: R24 272.73.









