STELLALANDER-VRYBURG: ’n Mercedes Sedan GLA 200 is vroeg Saterdagoggend, 25 Januarie, uit ‘n erf in Kampstraat, Vryburg gesteel.
Die voorval het vermoedelik tussen 01:00 en 05:00 plaasgevind. Die voertuigeienaar se man het omstreeks 05:30 opgestaan en opgemerk dat die hek wawyd oopstaan en die elektriese hekmotor beskadig is.
Dit is toe dat hy besef het hul voertuig, wat in die erf geparkeer was, vermis is. Hy het dadelik na die polisiestasie gegaan om die misdaad aan te meld. Volgens inligting het die polisie eers omstreeks 08:00 op die toneel aangekom om die voertuigeienaar se verklaring af te neem. Intussen het vriende, gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye en die buurtwag begin saamwerk om die voertuig op te spoor. Die vrou se pa, het verkeersbeamptes gekontak en versoek dat hulle op die uitkyk bly. Terselfdertyd het die man na brandstofstasies in die omgewing gery in ’n poging om die gesteelde motor op te spoor. ’n Gemeenskapslid van Dryharts het op ‘n Facebookblad gesien dat die voertuig gesoek word en die polisie in kennis gestel dat dit op Taung gesien is. Die polisie het dadelik ’n padblokkade op die Taungpad opgestel. Teen ongeveer 10:00 dieselfde dag, het verkeersbeamptes ’n voertuig by Brussels voorgekeer wat ooreenstem met die beskrywing van die gesteelde Mercedes. Die motor het teen ’n hoë spoed gery, en die nommerplate was verwyder. Die voertuigeienaar se man het na die toneel gehaas en die voertuig as hul eiendom geïdentifiseer. ’n Verdagte, ’n 23-jarige man, is op die toneel in hegtenis geneem en is aangekla van voertuigdiefstal. Hy het Maandag, 27 Januarie, in die Vryburg Landdroshof verskyn en is op eie verantwoordelikheid vrygelaat tot sy volgende hofverskyning op Maandag, 3 Februarie. Die polisie ondersoek die moontlikheid van verdere arrestasies. Die gesin het hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Vryburg en Dryharts, sowel as sekuriteitsmaatskappye, buurtwag, verkeersbeamptes en die polisie. Spesiale vermelding is gemaak van Nicky van Staden, Yvonne Filander, Manda Schoon en Rudi Oosthuizen vir hul hulp om die gesteelde voertuig suksesvol op te spoor en terug te kry.