STELLALANDER-VRYBURG: Stellalander het verlede week, op 22 Januarie, berig oor die tragiese ongeluk waarin drie lede van die Meyer-gesin buite Vryburg oorlede is.
Hierdie berig was gebaseer op inligting wat van die polisie ontvang is.
Mariaan Eilerd, suster van een van die oorledenes, Jolene Meyer, het egter verdere besonderhede gestuur om die gebeure reg te stel en die familie se storie te deel. Die ongeluk het op Sondag, 19 Januarie plaasgevind. Conrad Meyer (35) en sy 18-maande-oue seun, Juvan, is op slag dood. Jolene Meyer (32) is ernstig beseer, terwyl die egpaar se vyfjarige seun, Ivan, met ligte beserings oorleef het. Ivan is na die ongeluk deur omstanders versorg totdat familielede by die toneel opgedaag het. Die vrou wat eerste op die ongelukstoneel was en wat die familie gebel het, het gesê Jolene het beide haar suster en broer se nommers uit haar kop geken, en dit is hoe hulle geweet het wie om te bel. Haar verstand was so helder dat sy die vrou vertel het van haar baba, Dewan wat aan sistise fibrose oorlede is in 2022. Volgens Jolene, wat helder van verstand was ná die ongeluk, het hulle voertuig ‘n harde impak van agter gekry wat veroorsaak het dat Conrad beheer oor die motor verloor het.
Die impak was so groot dat die sleepwa wat hul gesleep het, se trekstang losgeskeur het. Die oorsaak van die ongeluk word tans ondersoek. Juvan Meyer, wat aan sistiese fibrose gely het, was bekend oor Suid-Afrika en selfs internasionaal weens die familie se openhartige deling van sy gesondheidstryd op sosiale media. Hy het talle operasies ondergaan, maar sy mediese vordering het onlangs dokters hoopvol gemaak. Sy lewe was ‘n inspirasie vir baie mense, en die familie is diep dankbaar vir die ondersteuning wat hulle in hierdie tyd ontvang het. Ivan, wat die ongeluk oorleef het, is tans by familie in Glaudina. Juvan en Ivan was Vrydag (17 Januarie) vir ‘n mediese ondersoek in Bloemfontein. Die Meyers het op pad terug Kathu toe, vroeër die Sondag middag gou by Jolene se suster gestop en gegroet, sodat die kinders net bietjie bene kon rek. Ivan verwerk die trauma van die gebeurtenis en praat gereeld oor sy pappa en broer wat oorlede is. Die familie hoop dat geregtigheid sal geskied in die ondersoek wat aan die gang is. Die Meyer-gesin se begrafnisdiens sal plaasvind op 1 Februarie 2025, om 10:00 vanuit die NG Kerk in Olifantshoek. Die familie bedank almal wat ondersteuning bied – van begrafnisondernemers tot vriende en vreemdelinge wat donasies en hulp aangebied het. “Ons ontvang daagliks boodskappe van simpatie en gebede van mense regoor die land. Dit is hierdie ondersteuning wat ons deur hierdie moeilike tyd dra,” sê Eilerd. Die gemeenskap is gevra om die familie in hul gebede te hou terwyl hulle deur hierdie pynlike verlies werk.