STELLALANDER-VRYBURG: Op Vrydag, 28 Februarie, omstreeks 15:00, het die Vryburg Verkeersdepartement ’n verdagte voertuig probeer stop.
Die bestuurder het egter versuim om te stop, wat tot ‘n kort jaagtog deur Vryburg gelei het. Die jaagtog het geëindig toe die verdagte beheer oor die voertuig op die N14 van Vryburg na Kuruman verloor en ‘n ongeluk veroorsaak het.
Op die toneel het die SAPS bevestig dat die bestuurder vermoedelik onder die invloed van alkohol en dwelmmiddels was. Verskeie wetstoepassings- en noodreaksie-eenhede was op die toneel, insluitend die Vryburg K9-eenheid, Vryburg Blitspatrollie, Reflex Secure se teen-kapingseenheid, Vryburg Polisie, en Staatsambulanse. Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem. ’n Saak van roekelose en nalatige bestuur, sowel as vlug van ’n ongelukstoneel, is geopen teen die verdagte. Die ondersoek duur voort.