STELLALANDER-BRAY: Na goeie reën in die opvangsgebiede het die Moloporivier kant-en-wal vol geloop, tot groot opwinding van inwoners en besoekers.
Die rivier het gereeld besoekers gelok wat die kabbelende water kom aanskou het. Die vloedwaters het selfs gelei tot die tydelike sluiting van die Bray-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana, aangesien die rivier die pad tussen die grensposte verspoel het. Die gemeenskap van Bray het egter hierdie seldsame geleentheid ten volle benut en op Saterdag, 8 Maart, ‘n vlotresies gereël ten bate van Kirstonia Skool op Bray. Kreatiewe en interessante vlotte het die rivier bestyg, en deelnemers het die dag vol pret en plesier geniet. Daar is ook met jetski’s op die rivier gespeel, en Rex Barnard het vir groot vermaak gesorg deur geskiedenis te maak as die eerste persoon wat op die vol rivier geski het. Ronel Pickels, wat self in ‘n kano op die rivier gevaar het, het as beoordelaar opgetree. Die Barnard-gesin is as wenners aangewys vir hul indrukwekkende vlot, onder die bekwame beheer van Winnie Barnard (88), wat nie net die vlot meesterlik bestuur het nie, maar selfs ‘n draai op ‘n jetski gemaak het. Na ‘n dag vol waterpret het almal saam gebraai en idees uitgeruil vir die volgende vlotresies. Die vol Moloporivier het verseker dat hierdie ‘n dag was wat nog lank onthou sal word.