STELLALANDER-VRYBURG: Suid-Afrika se Minister van Landbou, John Steenhuisen, het aangekondig dat die land ná 16 jaar weer vars appels na die Koninkryk van Thailand mag uitvoer.
Die mark was sedert Januarie 2008 gesluit weens veranderende invoervereistes van Thailand. Minister Steenhuisen beklemtoon die ekonomiese belangrikheid van appeluitvoere vir Suid-Afrika.
“Appels is een van die belangrikste bladwisselende vrugte wat in Suid-Afrika verbou word, veral in terme van buitelandse valuta-inkomste en werkskepping.
Die Suid-Afrikaanse appelbedryf is uitvoergerig, met ongeveer die helfte van die produksie wat na internasionale markte uitgevoer word.” Volgens Hortgro het Suid-Afrikaanse appeluitvoere die afgelope dekade met 40% gegroei, grootliks danksy die vraag uit die Verre-Ooste en Asië. Hierdie streke verteenwoordig tans sowat 35% van alle Suid-Afrikaanse appeluitvoere. In 2023 is altesaam 32 397 werkers in die appelbedryf werksaam, wat indirek ook 129 590 afhanklikes ondersteun. “Die uitbreiding van die uitvoermark kan verdere werksgeleenthede skep in arbeid-intensiewe sektore soos vrugte en groente, asook in aanverwante bedrywe soos landbou-verwerking, verpakking en logistiek,” sê Minister Steenhuisen. Alle uitvoere na Thailand moet voldoen aan die ooreengekome fitosanitêre vereistes, en die vrugte moet vry wees van kwarantynplae soos gespesifiseer in Thailand se invoorregulasies. Boorde, pakhuise en uitvoerinstansies wat appels na Thailand wil uitvoer, moet deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) geregistreer en goedgekeur wees. Hierdie geregistreerde boorde moet goeie landboupraktyke toepas, insluitend doeltreffende plaagbeheer en boordhigiëne. Hierdie heropening van die Thaise mark bied nuwe geleenthede vir die Suid-Afrikaanse appelbedryf en kan ‘n positiewe impak hê op die land se ekonomie en werkskepping.