STELLALANDER-VRYBURG: Die Vryburg Rugbyklub staan Saterdag, 28 Junie voor een van hul belangrikste toetse van die seisoen wanneer hulle om 15:30 op die Gert Lubbe-veld teen die magtige Leeutjies van Leeudoringstad te staan kom.
Leeutjies is die voorlopers en gunstelinge om vanjaar se Neser B Liga-titel in die Luiperds Unie in te palm. Vir Vryburg is dit ’n gulde geleentheid: ’n oorwinning teen Leeutjies sal hulle moontlik tot in die tweede plek op die ligapunteleer laat opstoot en ’n sterk posisie vir die semi-finaal verseker. Die klub se 2024-seisoen het reeds heelwat hoogtepunte en uitdagings ingesluit. Hier volg hul resultate tot dusver: 10 Mei: Vryburg wen tuis teen Hurricanes met 44–16; 7 Mei: Vryburg verloor weg teen Leeutjies met 27–49; 24 Mei: Vryburg wen tuis teen Lichtenburg met 26–19; 31 Mei: Vryburg klop NWU Mafikeng tuis met indrukwekkende 89–14; 7 Junie: Vryburg verloor weg teen Zeerust met 15–26 en 21 Junie: Vryburg behaal weer ’n wegsege teen Hurricanes met 38–14. Die wedstryd teen Leeutjies hierdie naweek is die eerste van vyf oorblywende wedstryde: 28 Junie: teen Leeutjies (tuis), 5 Julie: teen Lichtenburg (weg), 12 Julie: teen NWU Mafikeng (weg), 19 Julie: teen Zeerust (tuis) en 26 Julie: Semi-finaal. Met net ’n paar wedstryde oor voor die uitspeelrondes, sal Vryburg Saterdag alles op die veld moet los om hul plek tussen die topspanne van die liga te verseker. Die gemeenskap word uitgenooi om die manne in by Gert Lubbe-veld te kom ondersteun.