BRITS POS – BRITS – Daar is ‘n hond, Lucky wat spreekwoordelik met sy stert in die botter geval het. Begin Februarie het Roxanne Wolmarans ‘n verwaarloosde hond in Elandrand opgemerk en die volgende oggend was die hond by die vulstasie in Elandsrand. Roxanne het twee brode gekoop, wat sy neergesit het, want die hond was te bang om naby haar te kom, maar op ‘n afstand het sy gesien hoe hy die brode verslind.
Na werk het sy weer die hond gesien en twee pasteie by die vulstasie gekoop wat hy gulsig gevreet het.
“Ek het ‘n foto op Facebook geplaas om uit te vind of dit dalk ‘n verlore hond is en of die eienaar die hond kan gaan haal, maar geen reaksie gekry nie,” vertel Roxanne.
Haar besoeke aan die vulstasie het naderhand ‘n gewoonte geword; 05:30 soggens en 16:30 smiddags het die hond, wat nou die naam Lucky gekry het, kos van haar gekry. “Dit was vir my baie emosioneel en omdat ons twee klein hondjies het, was ek skrikkerig om ‘n vreemde, groter hond huis toe te neem en ek is elke dag in trane daar weg, want Lucky se oë het my hart se pad gekruis. Hy het toe begin om te huil wanneer ek in my kar klim om werk toe te ry en ook van vreugde gehuil wanneer ek in die middag daar aankom en ek het damme vol trane saam gehuil.
Ek het omtrent elke dag op my Facebookblad foto’s van Lucky geplaas, selfs as “The highlight of my day!”
“Daar was baie ander inwoners wat hulle ook oor Lucky ontferm en kos aangedra het, maar hy het nie ‘n ‘vir ewighuis’ gekry nie.” Agter by die karwas het sy vir hom komberse uitgesit en die bestuurder van die vulstasie het ook ‘n water-en koshouer gegee.
Met Sondag se swaar reën het Roxanne en haar seun, Hendré vir Lucky ‘n matrassie gevat en ook hout sodat hulle ‘n skuiling vir hom kon bou. “Maar dit het nie gewerk nie en ek het vir my seun gesê: “Ons laai nou vir Lucky en vat hom huis toe en ons sal dit dan met my man, Divan bespreek.
“Heeldag, Sondag en Maandag het Lucky, toe hy eers rustiger was, in my seun, Justin, se kamer geslaap en Lucky het nie net ‘n ‘viraltyd-huis’ gekry nie, maar is ook tot “Silwer” deur Divan herdoop en hy slaap snags nog in Justin se kamer.”
“Ons nuwe hondekind het wel letsels, maar met hope geduld en liefde sal ons dit gesond maak,” sluit Roxanne af.”
(Lees ook die brief van Annalene Grundlingh van Paws of Love op p5.)