BRITS POS – BRITS – ‘n Motoris, Pierre le Roux (41) was verlede Woensdagoggend op die R511 naby Beestekraal op pad werk toe en dit was nog donker, toe sy motor deur vloedwater meegesleur is.
Le Roux het gelukkig uit een van die agterdeurvensters van die motor kon ontsnap voordat dit onder die water verdwyn het. Die stroom het hom meegesleur, maar die krag van die water was net te groot en hy kon aan ‘n bos vasklou, maar die dun takkies het gebreek en hy is verder stroomaf waar hy teen ‘n jongboom met ‘n v-mik vasgespoel het waaraan hy kon vasklou.
Hy het sy selfoon, wat gelukkig nog in sy sak was uitgehaal en sy vrou, Sonja gebel om te sê dat hy aan ‘n boom vashou. Daar het hy vir langer as twee ure gehang en teen die water baklei toe iemand hom opgemerk het.
Intussen het Sonja by die toneel aangekom, maar die pad was afgesper en hulle wou haar nie deurlaat nie. “Ek het vir hulle gesê dit is my man wat in die stroom is en gaan deur ry.”
Le Roux vertel dat hy onophoudelik gebid het dat hy asseblief gered moet word.
Die geraas van vloedwater was so erg dat nie hy of die boere wat intussen gemobiliseer was mekaar kon hoor nie.
Na meer as twee ure het hy stemme gehoor en dit was twee plaasboere wat met toue vasgemaak was, wat na hom toe geswem het terwyl die ander boere die tou styf vasgehou het om te verseker dat hulle mede-boere nie ook in die moeilikheid kom nie.
Toe die redders by hom aankom, het hulle vir hom ‘n stuk boomstomp gegee en bevel om met al sy krag daaraan vas te hou en die boere op die wal het die drie nader getrek.
“Toe ek uiteindelik gered is, het ek my vrou gesien en die trane het vrylik geloop,” vertel Le Roux. Ek kan nie genoeg dankie sê vir die boere wat daar was om my te red en hulle eie lewens in gevaar gestel het nie en dank aan ons Vader dat my gebede verhoor is!
“Dankie ook aan HEMS wat my op die toneel vir hipotermie behandel en gestabiliseer het en ook hospitaal toe vervoer het. Baie dankie vir elkeen vir julle onbaatsugtige hulp,” sluit ‘n emosionele Le Roux af.